|

AfriForum se Witrivier-buurtwag vind voertuig vol plofstof ná plaasaanval

Die AfriForum-buurtwag in Witrivier het in samewerking met die SAPD, Hi-Tech Security en Netstar op 4 November 2019 omstreeks 02:00 ’n Toyota Fortuner opgespoor nadat dit tydens ’n plaasaanval gesteel is. ’n Boer, wat ook ’n buurtwaglid is, was besig om grensdrade op sy plaas na te gaan toe ’n onbekende aantal mense hom oorval en vasgebind het. Die verdagtes het daarna met sy voertuig weggejaag. Die boer is ongedeerd.

Die Witrivier-buurtwag is Sondagaand laat in kennis gestel van die aanval en diefstal en ’n soektog na die verdagtes en voertuig is van stapel gestuur.

Buurtwaglede het die silwer Fortuner by ’n Total-vulstasie in Kabokweni opgemerk waar die verdagtes besig was om brandstof in te gooi. Die voertuig se nommerplate was toe reeds verwyder. Buurtwaglede wat die gebied gepatrolleer het, het die voertuig weer omstreeks 01:00 by Casterbridge in die rigting van Numbi opgemerk. Buurtwaglede en die SAPD het die voertuig agternagesit en dit tot by Masoyi gevolg. Volgens Johan “Joe” Pelser van die Witrivier-buurtwag is die voertuig naby Ga-Tshwene afgetrek, waarna twee verdagtes op die vlug geslaan het.

Die buurtwag het verdagte sakke in die voertuig opgemerk en die polisie kon vasstel dat dit plofstof bevat. Die polisie se plofstofeenheid is gevolglik na die toneel ontbied. Die vermoede bestaan dat die verdagtes die plofstof moontlik wou gebruik om ander misdade te pleeg. Niemand is al in hegtenis geneem nie.

“Ons wil almal bedank vir die goeie samewerking met die opsporing van die voertuig. Mense moet meer paraat wees en betrokke raak in hul gemeenskappe,” sê Pelser.

“Sewe voertuigdiefstalsake is tussen Oktober en November aangemeld,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Soortgelyke plasings