|

AfriForum se Zastron-tak verwyder vullis en rig asblikke op

Die AfriForum-tak in Zastron het op 30 September 2021 verskeie asblikke in Zastron opgerig as deel van hul projek om Zastron skoon en netjies te hou. Die tak het ook vullis verwyder nadat die munisipaliteit nie vullis volgens hulle skedule verwyder het nie.

“Vullis wat nie verwyder word nie laat die gebied baie onnet en skep geleenthede vir rondloperdiere om sakke oop te skeur wat ook ’n omgewings- en gesondheidsrisiko vir inwoners inhou,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Die tak wag ook op terugvoer van die munisipale bestuur nadat ’n skrywe op 28 September aan die Mohokare Plaaslike Munisipaliteit gerig is. AfriForum se Zastron-tak gaan op Maandae vullis verwyder totdat verdere terugvoer van die munisipaliteit ontvang is.

“Dit is uiters swak dat die munisipaliteit nie basiese dienste kan verrig waarvoor belastingbetalers betaal nie. Die tak sal die gemeenskap sover moontlik help om ’n netjiese en veilige omgewing te skep. Ek wil die gemeenskap graag aanmoedig om deel te word van AfriForum se Zastron-tak om te help om die dorp te herstel en teen die verval te veg wat deur swak munisipale bestuur veroorsaak word,” sê Groenewald.

Sluit vandag nog by AfriForum aan en skep saam hoop: SMS “AfriForum” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings