|

AfriForum: Sedibeng Water ontbind eerder as om munisipaliteite tot verantwoording te roep

Die burgerregteorganisasie AfriForum is verstom oor Senzo Mchunu, die Minister van Water en Sanitasie, se besluit om die Sedibeng Waterraad te ontbind. Die probleem lê egter by die munisipaliteite wat nie die raad betaal vir die water wat gelewer word nie, terwyl die inwoners op hul beurt die munisipaliteite betaal. Die inwoners en die waterraad trek gevolglik aan die kortste end weens munisipaliteite se wanbetaling.

Volgens Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, is AfriForum bekommerd dat ’n waterraad wat al vir 43 jaar bestaan, ontbind word. “Die vraag wat gevra moet word, is gaan die minister elke waterraad ontbind as hulle begin swaar trek in plaas daarvan om die munisipaliteite vas te vat? Deur dié besluit te neem plaas die minister ook baie meer druk op Bloem en Magalies Water wat klaar ook swaarkry weens wanbetaling deur die munisipaliteite.”

Ongelukkig is munisipaliteite en munisipale bestuurders onaantasbaar verklaar deur die ANC en is staatsdepartemente te bang om die ingewikkelde netwerk van ontplooide kaders tot verantwoording te roep “Dit is duidelik dat die Minister van Water en Sanitasie en Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta), nie met mekaar kommunikeer nie en die grootste kwessie wat na vore kom uit die aangeleentheid is iets wat AfriForum al ’n ruk lank vermoed naamlik dat die nasionale regering beheer verloor het oor plaaslike owerhede. Plaaslike munisipaliteite doen net wat hul wil en kom daarmee weg,” aldus De Klerk.

Verskillende sfere en departemente van die staat behoort saam te werk, en Cogta is verplig om dit reg te kry. Dit is baie duidelik dat Dlamini-Zuma nie sukses hiermee behaal nie en dit is die hele doel van haar ministerie.

AfriForum het in die verlede al voorstelle aan die departement gemaak oor hoe die waterrade sowel as Eskom geld van die munisipaliteite kan in deur van ’n invorderingstelsel gebruik te maak, maar dit het op dowe ore geval. Dit is waarom AfriForum en die Mafube Besigheidsforum vandag vir pres. Cyril Ramaphosa en 16 ander respondente in die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein gaan uitdaag ten einde dienslewering in die Mafube Plaaslike Munisipaliteit te verseker.

Soortgelyke plasings