| |

AfriForum sit Wes-Kaapse immuunstelsel-inisiatief voort in Swellendam en Hessekwa-streek

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy Wes-Kaapse immuunstelsel-inisiatief vroeër in Mei in die Kaapse metropool afgeskop en op 13 Mei na die Suid-Kaap uitgebrei. Nartjies is weer, soos in die Overstrand, aan verskeie ouetehuise en aftreeoorde geskenk. AfriForum is ook besig met hierdie inisiatief in ander provinsies in Suid-Afrika.

“Met hierdie inisiatief wil ons mense bewus maak van die voordele wat vitamien C vir jou immuunstelsel inhou. Ons het besluit om op bejaardes te fokus, aangesien hulle die kwesbaarste persone is om COVID-19 op te doen en moeilik van die virus herstel,” sê Deon de Jager, AfriForum se hoof van gemeenskapstrukture vir die suidstreek.

Daar is gefokus op ouetehuise en aftreeoorde in Swellendam, Heidelberg, Riversdal, Albertinia, Melkhoutfontein en Stilbaai. AfriForum beplan om hierdie inisiatief binne sy beskikbare middele na ander voorstede in die metropool, asook ander dorpe in die provinsie uit te brei.

Hierdie inisiatief is moontlik gemaak deur ruim skenkings wat vanuit die Langeberg-distrik ontvang is.

Raak vandag nog by hierdie projek betrokke: Stuur ’n e-pos na deon.dejager@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings