|

AfriForum skenk bome aan skole in Mookgophong

AfriForum se Naboomspruit-tak het op 28 September 2021 bome aan die skole in die dorp geskenk as deel van die organisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek.

Bome is aan Dikubu Primary School, Mookgophong Primary School, Mokhari Secondary School, Makhutjisha Secondary School, B.B. Matlaila Primary School, Hoërskool Hans Strijdom, Laerskool Eugène N. Marais en Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool geskenk.

“In die onsekere tyd waarin ons leef, is dit lekker om te weet dat ons die lente met só ’n projek kan vier. Om vanjaar ’n boom te plant, gee vir ons moed vir die toekoms. Dié bome is ’n simbool van groei,” sê Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

“AfriForum skenk al vir etlike jare bome aan skole en ouetehuise in Mookgophong. Ons is vanjaar weer hartlik by die skole ontvang en die personeel was opgewonde om nog bome by AfriForum te ontvang. Van die skole het ook met die vorige jare se bome wat geskenk is en goed groei, gespog. Die tak is trots om op hierdie manier te help om ’n volhoubare toekoms vir inwoners te skep,” sê Lucas Bornman, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak.

Raak vandag nog by AfriForum se Naboomspruit-tak betrokke: SMS jou naam na 45340 (R1) en lewers op dié manier ’n positiewe bydrae.

Soortgelyke plasings