| | |

AfriForum skenk nartjies aan bejaardes in Worcester

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy Wes-Kaapse immuunstelselinisiatief op 14 Augustus 2020 na Worcester uitgebrei deur 400 kg nartjies aan verskeie ouetehuise en aftreeoorde in Rawsonville en Worcester te skenk. Dít volg nadat die organisasie hierdie inisiatief in Mei in die Kaapse metropool van stapel gestuur het.

Daar is veral gefokus op ouetehuise, aftreeoorde, asook ander sentrums en instansies in Rawsonville en Worcester wat na bejaardes omsien. Nartjies is onder meer aan Huis Lafras Moolman in Rawsonville, Huis Andries Hamman, ACVV Nuwerus Tehuis, die Instituut vir Blindes, ACVV Worcester Stilwaters Dienssentrum vir Bejaardes en Awendrus Tehuis vir Bejaardes in Worcester geskenk.

“Hierdie inisiatief, wat moontlik gemaak is deur ruim skenkings wat vanuit die Langeberg-distrik ontvang is, stel AfriForum in staat om ook uit te reik na bejaardes tydens die COVID-19-tydperk. Die gereelde inname van vitamien C help die menslike liggaam om natuurlike immuniteit op te bou teen allerlei siektetoestande,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

AfriForum beplan om hierdie inisiatief binne sy beskikbare middele na ander voorstede in die metropool, asook ander dorpe in die provinsie uit te brei. Stuur ’n e-pos na johardt.vanheerden@afriforum.co.za om by hierdie projek betrokke te raak.

Soortgelyke plasings