AfriForum skep hoop in Bultfontein tydens boomplantmaand


Die AfriForum-tak in Bultfontein het ’n boom elk by Hoërskool Bultfontein en by die plaaslike tehuis vir bejaardes geplant as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaand.
Volgens Michelle Peens, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Vrystaat, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 2 000 bome te plant.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en ’n mooier plek te maak om te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis,” sê Peens.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig dorpe aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Tydens die boomplantgeleentheid by Hoërskool Bultfontein het die onderwysers en die leerders van die skool ’n eed onderteken waarin hulle onderneem dat die boom ’n nuwe hoofstuk vir die skool simboliseer en dat hulle saam sal opstaan teen enige boeliegedrag wat moontlik tussen leerders kan bestaan,” sê Peens verder.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms.
 

Soortgelyke plasings