AfriForum skep hoop in Margate tydens boomplantmaand


Die AfriForum-tak in Margate het tien bome by sowel die Laerskool as die Hoërskool Suid-Natal geplant as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaandprojek.

Volgens Mornay Sargent, die AfriForum-tak in Margate se omgewingsakebeampte, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 2 000 bome te plant. “Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit ’n mooier plek te maak om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis.”

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig dorpe aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Margate en sy jeuglede onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” sê Wynand Kirchner, jeugbeampte van die AfriForum-tak in Margate.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms.
Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45267 (R1).
 

Soortgelyke plasings