AfriForum skep hoop tydens boomplantmaand


Die AfriForum-takke in Pretoria-Noord en -Suid het in Septembermaand gesamentlik 574 bome as deel van dié burgerregte-organisasie se nasionale boomplantmaandprojek geplant. Die Bronkhorstspruit-tak het ook tydens die projek indringerbome verwyder.

“Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie – ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is uiteraard ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar ook deel van ons erfenis,” sê Lambert de Klerk , AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul natuurlike omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n ewigdurende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het wel deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-takke in Pretoria-Noord en -Suid onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en opregte hoop vir die toekoms het,” sê Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Noord.

AfriForum wil Wildflower Nursery graag bedank vir die reuseskenking van bome.
Die takke moedig die gemeenskap aan om deel te word van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings