|

AfriForum skep informasie-stelsels in gemeenskappe om pro-aktief teen misdaad op te tree

Dit help nie om net reaktief in misdaadsituasies op te tree nie. Een of ander tyd moet mens na ’n situasie beweeg waar jy voldoende informasie, of te wete inligting het, sodat misdadigers en geweldenaars voorgespring kan word.

Só verduidelik genl.maj. Roland de Vries, voormalige adjunkhoof van die leër en konsultant van Projek Nehemia, AfriForum se gemeenskapstrategie teen geweldsmisdaad.

Volgens De Vries het die SAPD nie voldoende misdaadinligting om volhoubaar en doelgerig teen misdadigers op te tree nie. Baie van hulle lede erken dit openlik. Die rol van gemeenskappe in dié verband raak nou kardinaal; selfs om waar moontlik as die oë en ore van die polisie op te tree wanneer nodig. “Ons is in die opsig besig om leierskap en organisatoriese vermoë binne gemeenskappe te ontwikkel sodat hulle hulself, binne die raamwerk van die wet, kan beveilig en geweld kan bekamp.”

Die gedagte is dat daar in gemeenskappe operasionele veiligheidsentrums tot stand moet kom waar misdaadinligting geanaliseer kan word en besluitnemers op grond daarvan op gepaste optrede kan besluit. Ons verwys hierna as ‘n gemeenskapsveiligheid sentrum. “Om misdaad doeltreffend te bekamp, is dit nodig dat gemeenskappe inligting intyds en betyds kan bekom, voordat misdaad gepleeg word.” Dit moet lei na goeie besluitneming en doelgerigte optrede.

Loodsprojekte is byvoorbeeld reeds in Bloemfontein aan die gang waar ’n operasionele kamer in samewerking met privaat veiligheidsmaatskappy werk om inligting rondom misdaad in te samel. Laasgenoemde sentrum is ten nouste geïntegreer met AfriForum 911 se gemeenskapsveiligheidsentrum in Centurion.

Hier word ’n databasis volledig bestuur om die voorkoms van misdaad in provinsies en bepaalde dorpe ten toon te stel. “Dit moet uiteindelik soos ’n spinneweb werk waar beheersentrums regoor die land operasioneel, strategies en takties besluite rondom veiligheid kan neem.”

Ander dorpe waar Projek Nehemia uitgerol word, sluit in Fochville, Coligny, Paul Pietersburg, Pongola, Vanderbijlpark en Overstrand.

De Vries verduidelik dat daar ook na mobiele veiligheidsbeheersentrums gekyk word. Só ’n sentrum sal met al die nodige stelsels en kommunikasie-vermoë toegerus wees. Dit sal naby ’n brandpunt ontplooi kan word vanwaar besluitnemers die nodige bevel en beheer sal toepas.

De Vries wys daarop dat dié bekamping van misdaad met die ondersteuning van die polisie en ander hulpbronne soos ligte vliegtuie en hommeltuie gepaard moet gaan. “Tegnologie is beskikbaar teen misdaad. Ons moet dit egter verder ontwikkel en as kardinale hulpbronne gebruik,” sê hy.

 

Soortgelyke plasings