|

AfriForum skep regsfonds om ligte aan te hou

Terwyl Eskom munisipaliteite met agterstallige rekeninge tot einde vandeesmaand tyd gegun het om hul skuld te vereffen, het AfriForum vandag ’n regsfonds geskep om dié krisis verder in die howe te besleg indien nodig.

Verskeie munisipaliteite in onder andere Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap skuld Eskom gesamentlik sowat R10,2 miljard. Eskom het intussen met 21 van die 34 munisipaliteite ooreenkomste onderteken om agterstallige skuld te betaal.

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings het Eskom opdrag gegee om munisipaliteite uitstel te gee om hul skuld te betaal. Sy het aangevoer dat die afsny van dorpe se elektrisiteit rampspoedige gevolge vir ondernemings en ook ’n negatiewe impak op werksgeleenthede kan hê.

AfriForum en AfriSake het hul onlangs tot die hof gewend om Eskom te verhoed om verskeie munisipaliteite se krag af te sny. AfriForum het aangevoer Eskom tree ongrondwetlik op deur sy praktyk om inwoners te wil benadeel weens die versuim van swak bestuurde munisipaliteite om hul verpligtinge na te kom.

Die aansoek is egter met koste van die hand gewys nadat regter Hans Fabricius die dringendheid van die aansoek bevraagteken het asook of AfriForum en AfriSake die nodige regsbevoegdheid het om die aansoek te bring.

Fabricius het gesê Eskom het die reg om munisipaliteite se krag af te sny as hulle nie hul skuld betaal nie.

Marcus Pawson, hoof van plaaslike regering en omgewingsake, het gesê AfriForum volg ’n tweeledige strategie wat enersyds neerkom op ’n mobilisering van gemeenskappe om hul munisipaliteite tot verantwoording te roep en andersyds om groter druk te plaas op Nersa om munisipaliteite se lisensies terug te trek wat nie hul verantwoordelikhede teenoor die publiek en belastingbetalers nakom nie.

Hy het gesê die howe sal weer genader word indien nodig om gewone mense se grondwetlike regte te beskerm. Daarvoor is ’n regsfonds geskep waartoe lede van die publiek kan bydrae. AfriForum het reeds R1 miljoen spandeer op die regstryd om te verseker dat Suid-Afrikaners krag het. Die organisasie oorweeg nog of hy in Maart met die hoofaansoek rondom Eskom sal voortgaan.

Mense wat wil help, kan “Eskom” na 38310 SMS om R10 tot die regsfonds by te dra.

Soortgelyke plasings