|

AfriForum skerp veiligheid by sorgsentrum vir gestremdes op

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch


AfriForum se Lydenburg-tak in Mpumalanga het ingegryp na ’n onlangse inbraak by die Wenakker-versorgingsentrum vir gestremdes in die provinsie.
Díe instansie sien om na liggaamlik en verstandelike gestremde persone en het tans ’n inwonertal van 250. Wenakker is in Oktober 1969 gestig deur drie besorgde ouerpare wat destyds ook kinders met spesiale behoeftes gehad het. Die instansie streef daarna om volwassenes wat gestremd is van ’n gesonde, veilige en stimulerende omgewing te verseker. Die sentrum het 13 huise en elke huis het ’n huismoeder wat omsien na die behoeftes van die inwoners.

Na die onlangse inbraak by die sentrum, wat die diefstal van ’n motorvoertuig ingesluit het, het AfriForum se Lydenburg- tak ingegryp en hulp aangebied.
In samewerking met Lydenburg Reaksie, ’n veiligheidsmaatskappy, is ’n stelsel geïnstalleer wat elke huismoeder toerus met ’n paniekknoppie.
Volgens Chris Jankowich, direkteur van Wenakker, is die stelsel belangrik vir Wenakker om die 13 huise op die terrein te beveilig, nie net teen misdaad nie, maar ook wanneer daar gewone krisisse is.

“Dit sal die veiligheidsaspek baie verbeter. Die huismoeders kan dadelik dadelik hulp inroep indien daar ’n brand uitbreek of daar ’n mediese noodgeval is”, het Jankowich gesê.
Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Mpumalanga, het gesê dat AfriForum deur hierdie stelsel poog om weerlose mense se veiligheid te verbeter. “Misdaad is ’n probleem waarmee die gemeenskap in Mpumalanga worstel en met hierdie stap hoop ons om mense wat weerloos is, te beskerm.”

Leon de Jager, voorsitter van AfriForum Lydenburg-tak, het gesê: “Wenakker is werklik ’n deel van die gemeenskap van Lydenburg en ons as gemeenskap het ’n besonderse sagte plek vir die inwoners.”
Hy het bygevoeg dat die tak hulp aangebied het uit hul takfondse vir die installering van die paniekknoppie-stelsel.
Hierdie stelsel is direk gekoppel aan die reaksiespan met die nodige bystand. De Jager het sy dank uitgespreek teenoor Louwtjie Boshoff en sy span van Lydenburg Reaksie vir hul flink diens met die installering van die stelsel.

Hy het ook gesê dat elke AfriForum-lid van Lydenburg-tak direk bygedra het om Wenakker veiliger te maak.
“Dit beklemtoon weereens dat AfriForum ‘n gemeenskapsorganisasie is wat aktief betrokke is in ons gemeenskap,” het de Jager gesê.

Soortgelyke plasings