|

AfriForum skop 10 dae van selfstandigheid op hoë noot af

Van Pretoria-Wes tot Lydenburg, Kathu tot Reitz en Sasolburg tot Standerton het AfriForum-takke vandag moue opgerol en begin woeker met selfdoen-projekte om ’n beter land te skep.

Die burgerregte-organisasie se eerste dag van die veldtog van 10 dae van selfstandigheid het talle aksies behels waaronder slaggate wat herstel is, riviere en begraafplase wat skoongemaak is, ’n rioolpyp wat herstel is en strate wat saam met die munisipaliteit geverf is.

Tiaan Esterhuizen, bestuurder van gemeenskapsake, het gesê die eerste dag het baie positief afgeskop. “Ons lede is gemotiveer en daar is vroegdag reeds met aksies in verskillende dorpe begin. As ons die volgende 10 dae met hierdie ywer en dryfkrag kan voortgaan, sal ons ’n groot verskil in die verbetering van talle dienste in dorpe sien.”

Van die projekte wat gister aangepak is, sluit in:

  • R180 000 se slaggate wat 400 vk/m beslaan, is in Lydenburg gevul.
  • R10 000 is in Volksrust bestee om die begraafplaas skoon te maak.
  • Die begraafplaas in Nylstroom is skoongemaak. Tjaart du Plessis, voorsitter van die plaaslike AfriForum-tak, het gesê dié begraafplaas is vir diegene wat in die konsentrasiekamp gesterf het. “Dit is deel van ons geskiedenis. As die regering dit nie onderhou, sal ons.”
  • In Standerton is 140 slaggate en ’n rioolpyp teen ’n koste van R45 000 herstel. Hillel Coetzer, voorsitter van dié tak, het gesê: “Die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit se onvermoë om basiese dienste aan inwoners te lewer, is misdadig. Ons wil hoop vir ons gemeenskap skep en sal die geld van die munisipaliteit verhaal.”
  • In Vryburg het die tak gesien dat die padmerkers besig is om onsigbaar te raak wat ʼn gevaar vir motoriste inhou. Daniël Appolus, die munisipale verkeershoof, is gebel en was baie  opgewonde om deel van die projek te wees. Hy het versoek dat AfriForum die verf voorsien en ooreengekom dat die munisipaliteit die verfwerk sal behartig. Die projek sal sowat R12 000 beloop.
  • In Belville het taklede op eie inisiatief begin om die dorp skoner te maak deur onooglike vullisdromme leeg te maak en rommel op die sypaadjies op te tel.

Die veldtog gaan môre volstoom voort.

Soortgelyke plasings