|

AfriForum skop boomplantmaand vir die Wes-Kaap in die Matzikama-streek af

AfriForum het boomplantmaand vir die Wes-Kaap vanjaar in die Matzikama-streek afgeskop. Die burgerregteorganisasie se Vredendal-tak het die afgelope week bome geplant by die Naasdrift Primêre Skool, Hoërskool Nuwerus, Kleinrivier Primêre Skool, Lutzville Golfklub, Hoërskool Lutzville en Trawal Primêre Skool. Die tak beplan ook om bome by’n paar ander skole in die omgewing te plant.

Die Wes-Kaap se boomplantmaand is deel van ’n groter nasionale AfriForum-projek om landwyd meer as 3 000 inheemse bome te plant.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

Volgens Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder in die Boland, beplan die organisasie om meer as 150 bome in die Wes-Kaap te plant.

“Ons wil almal aanmoedig om soveel as moontlik bome te plant – nie net in boomplantmaand nie, maar elke dag van die jaar. Deur ’n boom te plant, belê jy in jou eie asook jou nageslagte se toekoms. Dit is daarom ook belangrik om noukeurig te beplan voor jy besluit om ’n spesifieke boom te plant,” sê De Jager.

De Jager deel kortliks ’n paar vrae rondom die geskiktheid van ’n boom volgens die doel waarvoor dit geplant word:

  1. Hoe groot gaan die boom wees wanneer dit volwassenheid bereik?
  2. Hoe groot is die area waar die boom geplant gaan word?
  3. Is die boom se wortels aggressief of nie?
  4. Hoe vinnig groei die boom?
  5. Is dit ’n bladwisselende of immergroen boom?
  6. Watter temperature is geskik vir die boom? Is die boom rypgevoelig?
  7. Wat is die boom se waterbehoeftes?
  8. Sal die boom in die spesifieke area aard? Hoe gehard is die boom?
  9. Watter grondtipe verkies die boom?

E-pos deon.dejager@afriforum.co.za of arno.greyling@afriforum.co.za om by jou plaaslike tak se omgewingsakeportefeulje betrokke te raak.

Klik hier vir inligtingstukke oor bome in Suid-Afrika:
Lys van indringerplante in Suid-Afrika
Die belangrikheid van bome in Suid-Afrika
Lys van beskermde bome in Suid-Afrika
Hoe om n boom te plant

Soortgelyke plasings