|

AfriForum skop #VegEnBou-week in die Moot-area in Pretoria af

Die AfriForum-takke van Oos-, Wes- en Sentraal-Moot het vandeesweek die organisasie se #VegEnBou-week afgeskop waartydens verskeie veldtogte van stapel gestuur is om die woongebied veiliger en skoner te maak.

Tydens die #VegEnBou-week is ’n kameraprojek vir die gebied bekendgestel, terwyl slaggate herstel, paaie geverf en bome geplant is. Die gemeenskap se buurtwag het ook ’n gebeurlikheidsplan ingeoefen en ’n bergpatrollie gehou om sigbaarheid te verhoog.

’n Skoonmaakveldtog word ook eerskomende Saterdag by die spruit tussen 28ste en 32ste Laan aangebied en die gemeenskap word uitgenooi om te kom help.

Werner Schultz, voorsitter van AfriForum se Sentraal-Moot-tak, sê die opknappingsprojekte is ’n spanpoging om die woongebied te verbeter. “Dit is belangrik dat gemeenskappe hande moet vat en deel van die projekte word. Dit is tot ons almal se voordeel as ons woongebied skoon en veilig is. Ons is moeg daarvoor dat ons area lyk soos dit lyk. Ons gaan ook ’n verskil maak en bome plant by laerskole soos Villieria en Pierneef.”

James Rough, voorsitter van AfriForum se Sentraal-Moot-buurtwag, sê die buurtwagte doen gereeld patrollies om sigbaarheid te verhoog en misdaad in die Moot te verminder.

As deel van die kameraprojek sal meer as 20 kameras op verskeie sleutelpunte binne en buite die gebied geïnstalleer word.

Volgens Ruan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag, is die kameraprojek geskoei op samewerking tussen die buurtwagte, die gemeenskap, ’n buitemaatskappy en die SAPD.

Dit werk deur middel van ’n Telegram-toep waarop die gemeenskap en partye met mekaar verbind is en waar probleme aangemeld kan word. Op die toep is dit ook moontlik om verdagte of gesteelde voertuie te identifiseer en die inligting word tussen die polisie en die gemeenskap gedeel. “Hierdie is ’n groot voordeel vir die Moot en gaan baie help om misdaad te bekamp.”

Tydens die week is meer as 2 ton asfalt gebruik om sowat 36 slaggate in strate in Oos-Moot te herstel.

“Die slaggate is deur inwoners op die AfriForum-Bot se Telegram-toep aangemeld nadat dit reeds by die Tshwane-metro aangemeld is. Daar was egter geen reaksie van die metro om dié slaggate te herstel nie,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Suid-area.

Strate rondom die Laerskool Villieria het ook ’n nuwe laag verf gekry om die veiligheid van leerlinge wat daagliks die pad gebruik, te verseker.

“AfriForum skep hoop en ’n toekoms met ons #VegEnBou-plan. Gemeenskappe moet eienaarskap van hul gebiede neem en proaktief en selfstandig optree. Elke klein projek dra by tot welstand en selfstandigheid vir jou gemeenskap,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord-area.

Soortgelyke plasings