AfriForum skors taklid summier ná aanranding


AfriForum het ’n lid van een van die organisasie se takke in die Wes-Kaap, wie se naam nog nie bekend gemaak mag word nie, summier geskors ná dit onder die organisasie se aandag gebring is dat die betrokke lid vir aanranding gearresteer is.
’n Ander AfriForum-lid van dieselfde tak het op die voorval afgekom, waarna hy gereël het dat die slagoffer na die hospitaal geneem word en ook as ooggetuie ’n verklaring by die polisie afgelê het.

“AfriForum veroordeel ten sterkste alle vorme van geweld en die skending van mense se waardigheid, ongeag wie die slagoffer of oortreder is. Enige persoon wat hulself aan enige vorm van geweld of die skending van iemand se menswaardig skuldig maak, moet die gevolge daarvan dra,” sê Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof.
“Die reg moet sy gang gaan. AfriForum glo in ’n samelewing wat gebou is op wedersydse erkenning en respek. Te midde van die groeiende polarisasie in die land doen AfriForum ’n beroep op almal in die land om goeie verhoudinge tussen gemeenskappe en individue te bevorder en hulle te weerhou van enige optrede wat inbreuk op mense se waardigheid en fisiese veiligheid maak,” voeg Kriel by.

Soortgelyke plasings