|

AfriForum sluit “Genoeg is Genoeg”-veldtog in KwaZulu-Natal af

Die burgerregte-organisasie het vandag sy “Genoeg is Genoeg”-veldtog suksesvol in Pietermaritzburg afgesluit.

Meer as 4 200 km is in twee weke afgelê om 13 departementshoofde landwyd strafregtelik aan te kla vir die wanbesteding van belastingbetalers se geld.

Die burgerregte-organisasie het die ouditeur-generaal (OG) se gekonsolideerde algemene verslag oor die nasionale en provinsiale oudituitkomste vir die 2014/2015-boekjaar bestudeer om 13 provinsiale departemente te identifiseer wat die meeste belastinggeld wanbestee het. Hierdie departemente sluit die departemente van gesondheid, paaie en vervoer, menslike nedersettings en onderwys in.

AfriForum het die wanbesteding van toegedeelde belastinggeld as ’n nasionale krisis geïdentifiseer nadat toepaslike wetgewing, die departementele jaarverslae en verslae van die ouditeur-generaal (OG) bestudeer en regsmenings ingewin is. Die organisasie het die afgelope twee weke departementshoofde landwyd aangekla ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999.

’n Klag is teen KwaZulu-Natal se departementshoof van gesondheid, dr. Sifiso Mtshali, ingedien het.

Luidens die OG se verslag het dié departement ongemagtigde uitgawes van R128 miljoen, en onreëlmatige uitgawes van R839 miljoen in die 2014/2015-boekjaar aangegaan. Die klag teen Mtshali is gebaseer op beweerde finansiële wanbesteding ingevolge bogenoemde Wet.

AfriForum het ook vandeesweek klagtes ingedien weens R92 miljoen se beweerde wanbesteding deur die Noord-Kaapse departement van gesondheid. Strafregtelike klagtes is ingedien teen Gugulethu Matlaopane, hoof van dié departement. Die jaarverslag van die departement toon dat ongemagtigde uitgawes van R92 miljoen in die 2014/2015-boekjaar aangegaan is.

Mev. Thoko Khanyile (57), ʼn inwoner van Pietermaritzburg in het aan Forum Nuus gesê dat sy nie verbaas is dat die departement van gesondheid so baie geld wanbestee het nie. Volgens haar is die gesondheidsdienste in haar provinsie uiters swak. “Daar is altyd ʼn tekort aan medisyne wanneer ek kliniek toe moet gaan. Die mense wat daar werk kommunikeer nie met ons nie en laat ons soms sonder verduideliking vir agt ure wag voor ons gehelp word.”

Sy het ook gesê daar is  ʼn tekort aan goeie dokters is en sy in van die mening dat ouer mense die meeste lei onder die departement se swak dienste. “Ek kan nie bekostig om vir ure te wag vir mediese dienste nie. Ek voel dat mense uiters onbedagsaam is en voel dat ons beter mediese sorg in die land verdien.”

Monique Taute, nasionale veldtogkoördineerder by AfriForum, meen departementshoofde is daarvoor verantwoordelik om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes te voorkom en om skuldige partye aanspreeklik te hou. “Dit is skokkend dat sekere departemente jare laas ʼn skoon oudit gehad het sonder dat departementshoofde verantwoordelikheid daarvoor aanvaar het.”

Volgens Taute het die eerste deel van die veldtog suksesvol afgeloop. Sy sê dat AfriForum die publiek deurlopend op hoogte sal hou oor wat met die klagtes en ondersoeke gebeur.

“Al ons sake is suksesvol geopen en die 13 saaknommers is reeds ontvang. Ons sal aanhou druk op die ondersoekbeamptes plaas om te verseker dat die sake deeglik en vinnig ondersoek word.”

AfriForum wil die publiek aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45352 te stuur (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za te onderteken.

Soortgelyke plasings