|

AfriForum soek fluitjieblasers om staatskorrupsie te ontbloot

Die burgerregte-waghond AfriForum het vandag ʼn veldtog van stapel gestuur om staatsamptenare aan te moedig om korrupsie in hul departemente aan te meld sodat dit ontbloot kan word.

Korrupsie is ’n ernstige bedreiging vir ons land se toekoms en dikwels affekteer dit diegene wat finansieel die swaarste trek die ergste,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

As deel van dié veldtog is ʼn webtuiste (www.stopkorrupsie.co.za) geskep wat as ʼn klagtekanaal dien. Honderde plakkate is ook teen pale in die middestad van Johannesburg en Pretoria aangebring waar die meerderheid van staatsdepartemente se kantore geleë is.

Taute sê sy glo vas dat daar staatsamptenare is wat die regte ding sal doen en korrupsie sal aanmeld sou dit in hulle departemente kop uitsteek.

Sy gee ook die versekering dat AfriForum sal seker maak dat staatsamptenare wat inligting met AfriForum deel, beskerm sal word.

Sy sê voorts dat strafregtelike klagtes teen korrupte staatsamptenare ingedien sal word deur die organisasie se teenkorrupsie-eenheid en indien die nasionale vervolgingsgesag (NVG) besluit om beweerde korruptes nie te vervolg nie, sal AfriForum se privaat vervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, die saak vir privaat vervolging oorweeg.

“Suid-Afrika het staatsamptenare nodig wat werklik ’n verskil wil maak om korrupsie te help teenstaan. Ons wil staatsamptenare aanmoedig om hande te vat met AfriForum en saam met ons te sê: Genoeg is genoeg,” meen Taute.

Daar is verskeie wette in plek om te verseker dat fluitjieblasers beskerm word indien hulle vertroulike inligting laat uitlek of kriminele aktiwiteite sou ontbloot:

Die Wet op Beskermde Bekendmakings

Dié Wet staan ook bekend as die fluitjieblaser-wet en verduidelik presies wat uitgelek mag word, hoe om die inligting te deel en aan wie dit geopenbaar mag word. Ingevolge dié Wet word enige persoon, behalwe ʼn onafhanklike kontrakteur, wat vir enige ander persoon of maatskappy, insluitend die staat, werk en wat daarvoor vergoed word, beskerm.

Die Maatskappye Wet

Hierdie Wet verseker die beskerming van fluitjieblasers in die werkplek.

Die Wet op Beskerming Teen Teistering

Hierdie Wet het in 2013 in werking getree en bied addisionele beskerming vir fluitjieblasers teen teistering of viktimisasie.

Die Wet op Getuiebeskerming

Hierdie Wet beskerm fluitjieblasers indien hulle in die hof moet verskyn.

Wat mag ontbloot word?

ʼn Strafregtelike oortreding.

Skade aan die omgewing.

Die wantoepassing van geregtigheid.

Onregverdige diskriminasie.

Nie-voldoening aan wetlike verpligtinge.

Situasies waar mense se gesondheid en veiligheid in gedrang is.

Die toesmeer van enige van bogenoemde.

Soortgelyke plasings