|

AFRIFORUM SOEK GEREGTIGHEID VIR KINDERS WAT DEUR REGSTELSEL VERSAAK WORD

Deur Alet Rademeyer

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het by vier sake van wrede kindermishandeling, verwaarlosing en seksuele aanranding in Brits betrokke geraak nadat dit aan die lig gekom het dat die regstelsel dié slagoffers in die steek laat.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, het vandag op ’n nuuskonferensie in Centurion gesê daar kan nie langer toegekyk word hoe die strafregstelsel die mees kwesbare individue in die samelewing, naamlik vroue en kinders, aanhoudend faal nie.

Verskeie gruwelike gevalle van kinderverkragting, -molestering, -aanranding en verwaarlosing is die afgelope tyd onder sy eenheid se aandag gebring. “Die polisiediens en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gee net lippediens aan die weerlose vroue en kinders in die samelewing, terwyl diegene wat agter die skerms werk om kinders te red en te beskerm geen ondersteuning kry nie.”

In drie gevalle waarby die privaatvervolgingseenheid betrokke is, het die NVG, ten spyte van oorweldigende bewyse, die klagtes teen die beskuldigdes in die Brits Landdroshof teruggetrek. In die vierde geval het die NVG wel vervolging teen sekere beskuldigdes ingestel, maar versuim om ander verdagtes te vervolg.

Nel en sy span tree op namens Michelle de Beer, ’n versorger by Place of Safety, en adv. Sylna Neuland (SC) in hierdie sake. Die eenheid het in hierdie verband ’n skrywe aan adv. Sibongile Mzinyathi, die direkteur van openbare vervolging in Pretoria, gerig om te eis dat die NVG vervolging instel of herinstel teen alle partye teen wie daar prima facie-bewyse is.

Nel sê daar is ook versoek dat ’n dringende ondersoek geloods word na die skynbare onbekwaamheid van wetstoepassers in die Brits-jurisdiksie met betrekking tot die hantering van hierdie sake. “Hierdie vier gevalle bevat van die gruwelikste seksuele misdade teen kinders wat ek al in my loopbaan teëgekom het.”

Nel is van mening dat die stelsel op die oomblik eerder talle pedofiele en mense wat verskriklike dade met kinders pleeg beskerm omdat die sake dikwels uitgegooi word of kinders in hierdie verskriklike omstandighede teruggeplaas word.

Hy het verwys na die geval waar ’n sewe weke oue baba ernstige brandwonde op sy rug opgedoen het omdat sy ouers hom in ’n staan vrieskas gesit het as hy huil. Personeel by die kleuterskool het dit gesien en die ma gekonfronteer.

In nog ’n geval is ’n twee en ’n halfjarige kleuter met ’n doekie in haar broekie kleuterskool toe gestuur om vaginale bloeding te verberg wat sy tydens seksuele dade opgedoen het.

Pauli Koch, ’n weldoener wat ’n huis van veiligheid vir kinders geskep het, meen mense is nie bewus van die geweldige trauma en angs waardeur baie kinders gaan wat misbruik word nie. “Van die mediese prosedures wat van hulle moet ondergaan om by genesing uit te kom, is skrikwekkend.”

Koch sê dit is hartverskeurend wanneer hierdie kinders begin oopmaak en vertel wat mense naby aan hulle gedoen het.

De Beer is ’n pleegouer wat ’n 6-jarige meisie in haar sorg het wat glo wreed deur haar stiefoupa en sy seun verkrag en aangerand is. Daar is ten tyde van die voorvalle glo ’n skottelgoedspons in haar mond gedruk om haar gille te demp. Die kind se ma was glo bewus en het die dade toegelaat vir geldelike gewin.

“Sy het letterlik met ’n plastieksak met net slaapklere by ons aangekom. Sy was aanvanklik verskriklik angstig, maar dit gaan nou beter met haar.”

De Beer sê dit bly egter ’n deurlopende stryd omdat die saak nie tot ’n einde kom nie. “Ons hou aan om ons teen mure vas te loop en intussen word ons deur die oortreders gedreig dat hulle haar sal terugkry. Dit is skrikwekkend om te dink dat sy dalk in daardie verskriklik omstandighede teruggeplaas moet word, want ek kan haar nie belowe dat ek haar veilig sal kan hou nie.”

Neuland sê kinders moet ’n stem hê. Elke mens in die samelewing het ’n plig en verantwoordelikheid om kinders te beskerm. “Kinders verdien nie om deur soveel trauma te gaan nie. En hulle verdien ook nie sekondêre trauma wanneer hulle deur hofverrigtinge gaan wat bly sloer nie. Hierdie sirkel moet gebreek word.”

Soortgelyke plasings