|

AfriForum soek geregtigheid vir slagoffers van Sharemax-bedrog

 

AfriForum en adv. Gerrie Nel, hoof van die burgerregtewaghond se privaatvervolgingseenheid, wil toesien dat geregtigheid ná byna ’n dekade vir die slagoffers van die Sharemax-bedrogspul geskied.

Sowat 34 000 beleggers het meer as R4,5 miljard in die skemas gestort en die meeste van hul geld verloor.

In agt jaar se tyd het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nog geen stappe gedoen om oortreders en direkteure te vervolg nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê ’n duidelike boodskap moet uitgestuur word dat mense wat ander se hardverdiende geld steel nie daarmee kan wegkom nie. “Die skema was van die begin af onwettig, terwyl die direkteure steeds in weelde leef. Hierdie skema kan gelykgestel word met die bedryf van ’n misdaadsindikaat en daarom moet hulle optrede onmiddellik gestop word. Mense werk hard om nie arm af te tree nie. Die slagoffers verdien geregtigheid.”

Nel en die privaatvervolgingseenheid het ’n bewaringsbevel opgestel om te verhoed dat die Nova-eiendomsgroep (vir alle praktiese doeleindes ’n voortsetting van Sharemax) die maatskappy se eiendomme teen pryse ver onder die markwaarde daarvan verkoop – ten koste van aandeelhouers. AfriForum het hierdie bevel aan die NVG gestuur en geëis dat hulle dit in ’n hof bring.

Die batebeslagleggingseenheid van die NVG kan hierdie eiendomme ingevolge ’n hofbevel in bewaring neem, maar die vervolgingsgesag het nog geen só ’n aansoek gebring nie.

In die aansoek wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid vir die NVG opgestel het, voer die burgerregte-organisasie aan dat die eiendomme ter sprake bekom is met die opbrengs van onwettige aktiwiteite, insluitend geldwassery en bedrog soos vervat in die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, Wetno. 121 van 1998, asook die Wet op Banke, Wetno. 94 van 1990. Aangesien die eiendom instrumenteel was tot die pleeg van die bogemelde misdade teen die aandeelhouers, en aangesien die maatskappy Nova sedert 2012 in beheer is daarvan (maar dié maatskappy gestig is met die opbrengs van onwettige deposito’s wat deur Sharemax van die publiek aanvaar is) het AfriForum versoek dat die NVG hierdie eiendom in bewaring neem.

“Ons ondersoeke het ook bewyse opgelewer dat die raadslede van Nova vir hulself buitensporige salarisse betaal, en ook eers hul eie salarisse betaal voordat hulle skuldbriefhouers uitbetaal. Dit blyk ook dat Nova besig is om van geboue ontslae te raak in ’n poging om likwidasie te vermy – ten spyte van die verdere reuse-finansiële verliese wat dit vir aandeelhouers kan inhou. Die Nova-raad se optrede is gewetenloos en daarom was ons genoodsaak om hierdie aansoek op te stel en vir die NVG te stuur om te verhoed dat aandeelhouers verdere verliese ly.

“Ons wil baie graag met die NVG saamwerk en bied al ons hulp tot hul beskikking aan sodat daar vordering in die saak kan kom,” sê Nel.

Herman Lombaard, wat ’n trust verteenwoordig wat in Sharemax belê het, meen die jongste stappe is die beste ding wat in jare gebeur het. “Soveel mense is reeds dood of het selfmoord gepleeg weens hierdie debakel.”

André Prakke, ’n ouditeur wat ook jare lank ondersoek oor Sharemax gedoen het, sê verskeie wette is oortree en bedrog is gepleeg. Daar moes baie lankal teen die direkteure opgetree geword het.

Eva Kautzy, ’n slagoffer wie se pa weens die impak van die bedrogspul in 2013 voor die Sharemax-gebou selfmoord gepleeg het, het bewoë gesê sy is dankbaar dat mense nou kan hoor waardeur beleggers soos haar pa is en hoe swaar hulle gekry het.

Soortgelyke plasings