AfriForum, Solidariteit dien klagtes in teen rassekwotas by die INF en EP


AfriForum en Solidariteit het vroeër dié week amptelike klagtes teen rassekwotas en politieke inmenging in Suid-Afrikaanse netbal by die Internasionale Netbalfederasie (INF) se hoofkantoor in Manchester, Engeland ingedien. Dié afvaardiging het ook met lede van die Europese Parlement (EP) in Brussel, België vergader waartydens politieke inmenging in Suid-Afrikaanse sport bespreek is.
Beide liggame is daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse regering polities in Suid-Afrikaanse sport se werksaamhede inmeng, asook op die feit dat ras ’n deurslaggewende rol in spankeuses speel.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, word die onafhanklikheid van Suid-Afrikaanse sportliggame in gedrang geplaas deur toenemende regeringsinvloed.

“AfriForum glo in die onafhanklikheid van sportverenigings. Dié verenigings moet hul eie besluite kan neem sonder die invloed van ’n voorskrywende regering,” sê Kriel.

Hierdie week se indiening sal in die komende twee weke opgevolg word met die indiening van soortgelyke klagtes by die Internasionale Krieketraad (IKR), die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) en die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se onderskeie hoofkantore.

“By die INF spesifiek word die weg oopgelaat om die internasionale hof vir sportarbitrasie te nader wat die hoogste gesagsliggaam in die internasionale sportarena is. Dié hof is juis daargestel om ’n finale en bindende beslissing oor internasionale sportdispute te lewer,” sê Henk Maree, woordvoerder van AfriForum.

Die publiek word aangemoedig om hul steun te wys en hul naam by die klagtes te voeg wat deur AfriForum ingedien gaan word deur die webtuiste te besoek of hul naam na 45113 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings