|

AFRIFORUM SPORT BIED EERSTE PRETLOOP AAN

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum Sport bied op Saterdag 27 Maart sy eerste pretloop by die Voortrekkermonument (VTM) in Pretoria aan. Die AfriForum Sport vir Hoop-pretloop word gereël met die oog daarop om mense, ondanks COVID-19, geleentheid te gee om weer lekker sosiaal te verkeer.

Ronald Peters, AfriForum se bestuurder vir Sport sê die gedagte is om mettertyd soortgelyke pretlope by AfriForum-takke aan te bied. “Ons wil mense die geleentheid gee om weer bietjie uit te kom.”

Die pretloop sal oor 5km, 10km en 15km aangebied word. Die tradisionele Parkrun-roete by die VTM sal gevolg word. Die meeste mense behoort die 5km kaf te draf, terwyl die 10km en 15km roetes meer uitdagend sal wees. Maar die hele dag gaan daaroor om jouself te geniet eerder as om die vinnigste moontlike tyd te probeer opstel.

“Inteendeel, ons gaan glad nie tydhou nie. Die dag gaan uit en uit oor pret. Mense kan bietjie die buitelug geniet en hul gesondheid bevorder. ’n Gesonde gesin lei tot ’n gesonde gemeenskap,” sê Peters.

Meer as 70 mense het reeds geregistreer om deel te neem. Registrasie kan nog tot die dag voor die pretloop gedoen word. Plek is egter beperk tot 250 deelnemers. Enigiemand kan deelneem en die pretloop is gratis. Deelnemers kan die oggend van 06:15 af begin aanmeld vir die pretlope wat om 07:00 sal begin. AfriForum-lede en persone wat op die dag by AfriForum aansluit, sal ‘n t-hemp ontvang. Daar sal lekker musiek wees en boereworsrolle en iets om te drink sal by die eindpunt beskikbaar wees.

Gewone COVID-19-maatreëls geld en deelnemers se temperatuur sal geneem word. Handreiniger sal ook beskikbaar wees.

Besoek www.virhoop.co.za om te registreer.

Soortgelyke plasings