|

AfriForum Sport skep samehorigheid in Vryburg

Die AfriForum-tak in Vryburg het op Saterdag 18 September 2021 hul eerste AfriForum-sportdag vir die gemeenskap aangebied.

Een van AfriForum Sport se missiestellings is om ’n tuiste te skep vir die gemeenskap om op sosiale vlak met sport as voertuig byeen te kom. Dit is presies wat op Vryburg plaasgevind het. Die dag het om 07:00 begin met bergfietsritte en veldwedlope oor verskillende afstande. Hierdie twee sporte het meer as 80 inskrywings gehad. Later die oggend is daar ook ses-aan-’n-kant-krieket, tennis dubbels en rolbal gespeel.

Die wenspan by elke sportsoort het ’n wisseltrofee ontvang en die eerste drie plekke by elk van die bergfiets- en veldwedloopitems het elk ’n AfriForum Sport-medalje ontvang. Jonk en oud het hierdie besondere dag bygewoon en geniet. Die jongste fietsryer is 7 jaar oud en die oudste drawwer 74.

“Dit was vir AfriForum Sport ’n besondere voorreg om hierdie dag te kon aanbied saam met vyf sportklubs van Vryburg. Ons nooi graag alle sportklubs, afrigters en sportverskaffers uit om AfriForum Sport te nader om sodoende deel van hierdie beweging te word om nie net mense aktief te kry nie, maar ook om gemeenskappe bymekaar te bring en op ’n veilig plek sosiaal te verkeer. Ons weet, veral in Suid-Afrika, dat niks ons bymekaar kan bring soos sport nie,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland. 

Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, noem dat die sukses van die afgelope naweek se projek in Vryburg net weer die krag van sport in gemeenskappe bewys het. “Ons is verheug dat soveel mense, jonk en oud, aan die verskeie geleenthede deelgeneem het en hierdie geleentheid om as gemeenskap saam te kom en pret te hê,” sê  Peters. “Dit was vir ons ’n voorreg om by hierdie geleentheid betrokke te wees en om die gemeenskap van Vryburg hierdeur te bemagtig.”

Soortgelyke plasings