AfriForum spreek kragkrisis in Schweizer-Reneke aan


Inwoners van Schweizer-Reneke het hul na AfriForum se tak hier gewend nadat die dorp daagliks kragonderbrekings ondervind wat skade van duisende rande aan elektriese toebehore aanrig.
Ondersoeke en gesprekke met raadslede van die Schweizer-Reneke stadsraad, dui daarop dat die hoofoorsake van hierdie kragkrisis ondermeer wanbestuur, wanbesteding van fondse asook ongekwalifiseerde werkers is. Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland, wys daarop dat hoewel Schweizer-Reneke kwalifiseer vir die aanstelling van ’n elektriese ingenieur, daar nie ’n enkele gekwalifiseerde elektrisiën in diens is nie, slegs tegnikuste.

Schweizer-Reneke se AfriForum-tak het voortgegaan en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se lisensie bekom en dit is duidelik dat die Mamusa Plaaslike Munisipaliteit nie aan die vereistes voldoen nie. “Indien Nersa hulle werk na behore gedoen het, moes hulle lankal die lisensie herroep het of toegesien het dat die plaaslike munisipaliteit aan die vereistes voldoen,” sê Pretorius.

Verder het die plaaslike AfriForum-tak in samewerking met ander rolspelers ’n petisie versprei wat deur talle inwoners onderteken is en Pretorius sê dat hierdie inligting aangewend gaan word om die plaaslike munisipaliteit tot verantwoording te roep indien daar nie spoedig aan die kragsituasie aandag gegee word nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners onder hierdie swak diens moet ly terwyl hulle vir hul elektrisiteit betaal,” sê Pretorius.

Soortgelyke plasings