|

AFRIFORUM SPREEK VN TOE OOR HAATSPRAAK TEEN MINDERHEDE IN SA

Deur Alet Rademeyer

AfriForum het deelgeneem aan die Verenigde Nasies (VN) se 13de Forum oor Minderheidskwessies.

Die tema is: “Haatspraak, Sosiale Media en Minderhede”.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie, by AfriForum, het ’n regstreekse videovoorlegging oor haatspraak teen minderhede in Suid-Afrika gedoen en gewys hoe invloedryke politici en regeringsleiers hul hieraan skuldig maak.

“AfriForum waardeer die geleentheid om, veral op ’n internasionale verhoog, die aandag te vestig op die knaende kwessie van haatspraak teen minderhede in Suid-Afrika op sosiale media en deur hoëprofiel-politici. As ’n burgerregteorganisasie wat hoofsaaklik op minderheidsregte fokus, is dit ons verantwoordelikheid om elke moontlike kanaal te gebruik om bewustheid oor sulke kwessies te verhoog,” sê Roets.

In sy voorlegging sê Roets haatspraak teen minderhede in die land is ’n ernstige krisis en dit moet gesien word binne die konteks van die vlaag van plaasmoorde en –aanvalle wat in die land voortgaan.

“Die krisis is nie net beperk tot sosiale media nie en verder doen die regering niks daaraan nie. Haatspraak word gereeld deur sommige politici en leiers van die regering en regerende party geuiter. Haatspraakliedere soos Kill the Boer, Kill the Farmer, One Bullet, One Settler en Shoot the Boer en variasies daarvan word gereeld gesing.”

Volgens Roets het haatspraak werklike gevolge. In ’n studie wat die organisasie gedoen het, is bevind dat plaasmoorde en –aanvalle toeneem in die maande nadat sulke uitsprake gemaak en in die media gerapporteer is. Nadat AfriForum vyf voorvalle van haatspraak deur hoëprofiel politici teen boere ontleed het, is bevind daar was ’n toename van 74,8% in plaasmoorde in die maande ná die uitsprake gemaak is.

Roets het ook verwys na oudpres. Jacob Zuma wat in 2012 Shoot the Boer tydens die ANC se 100-jaar herdenking gesing het. In die maand daarna was daar sestien plaasaanvalle waarin ses mense vermoor is.

Julius Malema, leier van die EFF, het op sy beurt al gesê “alle wit mense is kriminele en moet as sodanig behandel word” en “ons vra nog nie vir die slagting van wit mense nie, altans nie nou al nie…”

Roets het ook gesê die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het deel van die probleem geword nadat dit verklaar het dat die ras van ’n oortreder bepaal of uitsprake as haatspraak bestempel kan word.

“Haatspraak teen minderhede geniet nie naastenby die aandag wat dit moet nie en gevolglik kom oortreders gewoonlik daarmee weg. Veral as hulle met ’n bepaalde politieke party verbind word.”

Roets sê dit is om hierdie redes dat AfriForum sy optrede verskerp het teen haatspraak teen minderhede. Die optrede en ingryping sluit navorsing, dialoog en hofsake in. “Die veldtog word ook internasionaal gedryf deur ons #DieWêreldMoetWeet-veldtog waartydens bewustheid geskep word rondom die krisis en invloedryke rolspelers betrek word om ook teen die kwessies standpunt in te neem.”

AfriForum is onlangs ingelig dat hy nou amptelik by die VN as nieregeringsorganisasie met spesiale raadgewende status erken word. Dié status bied aan AfriForum verskeie geleenthede en voorregte om die organisasie se werk op groter skaal in die geriewe van die VN voort te sit. Die deurbraak is gemaak ten spyte daarvan dat die Suid-Afrikaanse regering vir jare aktief gewerk het om hierdie geleenthede van AfriForum te ontneem.

Een van die voorregte wat met spesiale raadgewende status verband hou, is dat AfriForum by verskeie van die VN se forums geskrewe en selfs mondelinge voorleggings kan maak oor kwessies waarmee die organisasie gemoeid is.

Soortgelyke plasings