AfriForum staan boere in Waterberg-distrik by tydens droogte


Die burgerregte-organisasie AfriForum is in samewerking met Boere in Nood en georganiseerde landbou besig met ’n projek om voer in te samel vir boere in die Waterberg-distrik wat onder ernstige droogtes gebuk gaan. Nege vragmotors het die afgelope week 1 154 bale voer na boere in droogtegeteisterde gebiede aangery ter ondersteuning van dié projek.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Soutpansberg, kry boere werklik swaar. “Van die boere in dié gebied het al groot verliese gely weens hul vee wat aan hongersnood vrek. Dit is ons plig as burgerregte-organisasie om die boere by te staan en hulp te verleen, op enige wyse moontlik.”

AfriForum het ook R10 000 uit sy droogtefonds – wat geskep is om boere in nood te help – beskikbaar gestel om ’n grasveld te laat sny wat ongeveer 200 bale voer sal lewer en aan boere in die omliggende gebiede gestuur sal word. Die takke in Ellisras, Naboomspruit, Nylstroom, Phalaborwa en Tzaneen het elk ook bydraes tot die organisasie se droogtefonds gemaak, waarvoor Grobbelaar baie dankbaar is.

“Ons vra dat ander organisasies en gemeenskappe die inisiatief sal ondersteun. Ons glo dat enige bydrae van waarde sal wees om die boere se swaarkry te help verlig, en ek wil graag al die boere en gemeenskapslede bedank wat tot dusver voer en vragmotors vir die projek beskikbaar gestel het. Ons kan met sekerheid sê dat dit ’n reuseverskil gemaak het. Boere het trane van blydskap as hulle die voer kom oplaai,” sê Grobbelaar.

Jy kan ook hierdie inisiatief ondersteun op een van die volgende maniere:

  • Deur voer te skenk;
  • Deur vragmotors beskikbaar te stel om die bale voer na die verkillende gebiede te vervoer;
  • Deur die woord “Droogtehulp” na 38310 te SMS om R10 te skenk; en
  • Deur ’n donasie aan AfriForum se droogtefonds te maak wat gebruik sal word om vervoer te reël of voer aan te koop.

Bankbesonderhede indien jy ’n donasie wil maak:
Rekeninghouer: AfriForum NPC
Bank: FNB
Rekeningnommer: 623 4989 9398
Tak: Centurion
Takkode: 261 550
* Gebruik “Waterberg-droogtehulp” as verwysing.
Skakel Jaco Grobbelaar by 081 216 9570 of Tommie Klopper by 062 300 2308 vir enige verdere navrae.

Soortgelyke plasings