AfriForum staan buurtwaglede tydens sewe hofsake by


Die burgerregte-organisasie AfriForum het twee van sy Ellisras-buurtwaglede tydens sewe hofsake bygestaan. Dít volg nadat die twee buurtwaglede strafregtelik aangekla is en die saak op 27 Junie 2018 uit die hof gegooi is.
Die twee buurtwaglede is aangekla nadat hulle gereageer het op ’n noodoproep dat daar wildstropers in die gebied was. Terwyl hulle die gebied gepatrolleer het, het hulle ’n verdagte voertuig met vrieskaste agterop langs die pad opgemerk. Hulle het saam met ander lede van die buurtwag by die voertuig gestop om seker te maak dat alles in orde is. Daarna het almal, asook die drywer van die voertuig, die toneel verlaat. ’n Dag later het die drywer van die voertuig egter ’n strafregtelike klag by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ingedien en die twee buurtwaglede van diefstal beskuldig.
AfriForum het regshulp verkry om die lede by te staan nadat die polisie die lede op 8 en 9 Februarie wou arresteer. Een buurtwaglid is vir twee ure lank in die hofselle opgesluit, waarna die lid op borgtog vrygelaat is met die hulp van ’n prokureur wat deur AfriForum aangewys is.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, is albei die lede se gedragskodes en vorms in orde en daarom kon AfriForum hulle vinnig en doeltreffend bystaan. “Die buurtwaglede het binne die raamwerk van die wet opgetree wat dit moontlik maak vir ons om hulle by te staan. Ons sal enige van ons buurtwaglede verdedig en met regshulp steun, mits hulle binne die wet optree en ons buurtwaggedragskode onderteken het,” sê Grobbelaar.
Gideon de Jager, AfriForum se buurtwagvoorsitter in Ellisras, het sy dankbaarheid uitgespreek vir die bystand wat AfriForum aan die lede gebied het en veral omdat dit die buurtwaglede en hul gesinne van groot finansiële verlies gered het. “Die regshulp en bystand wat AfriForum aan dié lede verleen het, was merkwaardig. Ná sewe hofsake kan ons met gemak sê dat die maandelikse lidmaatskap van R50 wat aan AfriForum betaal word, die moeite werd is en ek raai enige persoon aan wat wil betrokke raak by die buurtwag om deel te raak van dié struktuur,” sê De Jager.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om deel te word van die buurtwag deur “veiligheid” te SMS na 45340 (R1) en saam ’n verskil te maak.

Soortgelyke plasings