AfriForum staan De Goede Hoop-koshuis tydens watertekort by

AfriForum se Waverley-tak het op 4 September 2019 water aan die De Goede Hoop-koshuis naby aan die Universiteit van Pretoria voorsien toe koshuisinwoners vir geruime tyd sonder water gelaat is nadat ’n waterpyp gebars het.

Die koshuis het AfriForum om hulp genader nadat studente vir ’n paar dae geen lopende water gehad het nie.

“Die studente moes drinkwater aankoop en kon nie klere of skottelgoed was of toilette spoel nie. Ons het die studente van water voorsien sodat hulle die basiese kon doen,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Volgens munisipale boodskappe kan die watertoevoer vir ongeveer nog drie weke onstabiel wees totdat die lek herstel is. “Ons sal die koshuis ondersteun totdat die probleem opgelos is,” voeg Grobbelaar by.

Hy bedank vir Gideon van Deventer van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag vir sy hulp en bystand met die installering van watertenks by dié koshuis. “Hierdie aksies word moontlik gemaak deur goeie en betrokke gemeenskapslede. Dit is lekker om te sien dat mense tyd uit hul persoonlike lewe neem om die gemeenskap te help.”

AfriForum sal voortgaan om soortgelyke aksies in die Tshwane-metro aan te pak en doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak.

Sluit vandag nog by AfriForum aan: SMS jou naam na 45341 (R1) en word deel van die positiewe verskil in jou gemeenskap.

Soortgelyke plasings