|

AfriForum staan Dundee-boer by ná moordklag weens tienerseun se skietdood

Politieke inmenging en rassevooroordeel wat gebruik word om die regsbeginsels van gelykheid en geregtigheid te beïnvloed, kan nie aanvaar word nie.

Dit is om dié rede en in die lig van talle krisisse wat besig is om te verdiep weens die regering se onbevoegdheid om landsburgers te beskerm, dat AfriForum besluit het om regshulp te verleen aan Garth Simpson (68), ’n boer van Dundee.

Simpson word van moord aangekla op Qiniso Dlamini (17) ná ’n skietvoorval op sy plaas enkele weke gelede. Simpson boer sedert 1975 op die grond. Die voorval hou verband met gesteelde vee wat Simpson op sy plaas geskut het. Hy het die polisie ontbied, maar ’n situasie het glo ontstaan waar ’n groep mans die kraal wou oopbreek om die vee uit te kry. ‘n Struweling het na bewering ontstaan en ’n skoot uit Simpson se geweer het afgegaan en Dlamini getref.

Die media het reeds verskeie kere oor die gespanne situasie in Dundee/Glencoe berig en uitgewys dat sekere gemeenskapslede met verdere geweld en oproer dreig.

AfriForum het by hierdie saak betrokke geraak omdat dit lyk of Simpson ’n baie goeie verweer openbaar en moontlik suksesvol sal wees in sy verdediging, mits hy goeie regshulp het tydens die verhoor en nie die slagoffer word van nou al holruggeryde politieke en rasgebaseerde aantygings nie, sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.

Ernst Roets

AfriForum raak as ’n reël nie by individuele sake betrokke nie, maar doen dit nou omdat groter kwessies ter sprake is wat nie net die beskuldigde nie, maar die breër gemeenskap raak.

“Wat die breër konteks betref, word die land tans gekonfronteer deur ’n verskeidenheid krisisse wat net vererger. Die regering is onbevoeg en kom nie sy verantwoordelikheid na om landsburgers te beskerm nie. ’n Kultuur van geweld heers en daar is ’n klimaat waar haatspraak en geweld teen minderhede as polities korrek bestempel word en self geromantiseer word.

“Aan die ander kant bevind boere hulle in moeilike en onhoudbare situasies waar plaasaanvalle en –moorde, grondbesetting en grondgrype, dreigemente oor onteiening sonder vergoeding en ’n ekonomiese oorlewingstryd hul daaglikse realiteit is. Misdade teen boere en hul eiendom geniet die aandag wat dit moet nie.”

Roets sê wat in Dundee afgespeel het, is en bly tragies maar dan kan nie toegelaat word dat politici en gemeenskappe munt uit voorvalle soos hierdie probeer slaan sonder dat die saak behoorlik ondersoek en die regsproses sy loop geneem het nie.

AfriForum het dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner en dosent verbond aan die Universiteit van Pretoria, opdrag gegee om die meriete van die saak behoorlik te ondersoek voordat besluit is om betrokke te raak.

Dr. Llewelyn Curlewis

Curlewis sê na bestudering van die feite op die grond en getuienis soos ’n selfoonvideo wat op die toneel deur die beskuldigde se seun geneem is én volgens hom in die hof toegelaat moet word, is daar geen rede waarom die beskuldigde nie sy saak dat hy uit selfverdiging opgetree het kan stel nie.

Volgens Curlewis mag die saak nie vooruit geloop word nie en alle feite moet in die hof uitkom.

Curlewis meen egter dit is op die oog af duidelik dat sommige mense politieke munt uit die voorval wil slaan as daar byvoorbeeld na voorvalle van brandstigting op Simpson se plaas, kort ná sy in hegtenisneming, gekyk word.

Die media het reeds verskeie kere oor die gespanne situasie in Dundee/Glencoe berig en uitgewys dat sekere gemeenskapslede met verdere geweld en oproer dreig.

Boere in die omgewing word ook met die dood gedreig en dit is algemeen bekend dat hulle baie probleme met kleinboere ondervind wat hul vee onwettig op plase laat wei. Hierdie probleem én veediefstalle word gereeld onder die polisie se aandag gebring en klagtes word ingedien waarvan daar nie veel kom nie. Die algemene gevoel onder boere is dat hulle die polisie se werk moet doen en wanneer sake verkeerd loop, keer die polisie hulle die rug toe.

Simpson se borgaansoek word vandag aangehoor.

Soortgelyke plasings