AfriForum staan Kaapstad se voorgestelde droogteheffings teen


Die burgerregte-organisasie AfriForum het kommentaar teen die Stad Kaapstad se voorgestelde droogteheffings ingedien tydens die periode van openbare kommentaar wat op 15 Januarie 2018 gesluit het. Hierdie voorgestelde heffings plaas bykomende druk op Kapenaars, wat die afgelope tyd onder ’n geweldige waterkrisis gebuk gaan.
AfriForum fokus in sy kommentaar daarop dat die Kaapse metroraad sulke stappe kon vermy indien hulle vroeër gehoor gegee het aan waarskuwings vanuit die gemeenskap.
Die burgerregtewaghond voer verder in sy kommentaar aan dat die instel van ’n droogteheffing ongrondwetlik is en dat die Stad Kaapstad nie die mag het om sulke beswarende maatreëls op slegs ’n gedeelte van die gemeenskap af te dwing nie. Die heffings sal bykomende finansiële stremming op huisgesinne en kleinsake-ondernemings binne die Kaapse metropolitaanse gebied plaas.
Die versuim van sowel die provinsiale as nasionale regering se toetrede tot die waterkrisis word verder bevraagteken.

“Ons gemeenskap moet sterk teenkanting bied teen die instel van sulke ondeurdagte heffings wat deur die plaaslike owerheid gestoomroller word,” sê Jan Badenhorst, AfriForum se hoof van die Suidstreek.

AfriForum moedig die publiek aan om sy petisie te onderteken om sodoende genoegsame druk op die metroraad te plaas. Ondertekening van die petisie sal daartoe bydra dat die stadsraad oorreed word om die regte besluit te neem op 31 Januarie 2018, wanneer die droogteheffing finaal oorweeg sal word.
Laat jou stem hoor en onderteken die petisie: SMS jou naam na 32688 (R1).

Soortgelyke plasings