AfriForum staan SAUK-wetsontwerp in huidige formaat teen

AfriForum het vandag kommentaar teen die SAUK-wetsontwerp in sy huidige vorm ingedien by wyse van ’n skriftelike voorlegging aan die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie. Dié wetsontwerp is op 30 Junie 2021 in die Nasionale Vergadering ingedien en die publiek het tussen 16 Julie en 31 Augustus 2021 geleentheid gehad om daarop kommentaar te lewer.

Die wetsontwerp is nie ’n ingrypende opknapping van die SAUK nie. Dit is hoogs onwaarskynlik dat die gestelde doelwit van vaartbelyning noodwendig tot ’n toename in bedryfsvermoë sal lei of politieke inmenging en patronaatnetwerke sal voorkom. Die wetsontwerp is nie tans rampspoedig nie; na AfriForum se mening verteenwoordig dit egter ’n beduidende, dog verspeelde geleentheid vir broodnodige en betekenisvolle hervorming aan SAUK-strukture. Die wetsontwerp doen nie genoeg om sy eie gestelde doelwit ten opsigte van strukturele hervorming te bereik nie in ’n tyd wat ingrypende, radikale hervorming noodsaakliker is as ooit tevore.

Jacques Broodryk, veldtogtebestuurder by AfriForum, sê dat enige wetgewende hervorming ’n verspeelde geleentheid is indien dit nie daarin slaag om die Zumafisering van maatskappye in staatsbesit en institusionele gapings wat staatskaping moontlik gemaak het op doeltreffende en ingrypende wyse aan te spreek nie. Alle staatsbeleide en wetgewende aksies behoort as sentrale fokus die toestop van gapings in aanspreeklikheid te hê om te verseker dat plundery, mafiapolitiek en patronaatskap nooit weer kan wortelskiet nie.

“Die krisis waaronder die SAUK sedert die vroeë 2000’s gebuk gaan, is goed gedokumenteer. Die openbare uitsaaier het ook nie Zumafisering vrygespring nie. Die skandale is só talryk dat selfs die vurigste kommentators dit nie in ’n enkele spreekbeurt sal kan opnoem nie. Alles in ag genome het die sirkus van korrupsie en wanbestuur die openbare uitsaaier met tye onkapabel gelaat om sy grondwetlike mandaat uit te voer,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings