|

Kyk: AfriForum staan sielkundestudent in regsgeding by

AfriForum staan ’n sielkundestudent met ’n regsgeding teen die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) by om te verseker dat sy aansoek om te registreer, goedgekeur word.

Die raad weier tans om Du Toit Genis (29) van Pretoria se aansoek af te handel, omdat sy honneursgraadsertifikaat, wat hy aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf het, in Afrikaans is. Dié sertifikaat is wel notarieel bekragtig wat dit geldig maak.

Dit was reeds ’n baie lang en moeilike pad om te kom waar ek nou is.

Genis is tans met die voltooiing van sy meestersgraad in sielkunde besig. Om sy studies te kan voltooi, moet hy by die raad as intern-sielkundige registreer terwyl hy sy prakties by ’n erkende instansie doen. Hy het in Desember aansoek gedoen en in Januarie vanjaar met sy internskap begin. Hy vrees dat indien sy aansoek nie terugwerkend goedgekeur word nie, sy internskap, wat einde vanjaar afgehandel sou wees, verleng sal moet word ten einde sy studies amptelik te kan voltooi.

Wat Genis ontstel, is dat die HPCSA wel dié graadsertifikaat (in Afrikaans) en al die ander dokumente wat presies dieselfde is as wat hy nou ingedien het, vroeër aanvaar het toe hy ook moes aansoek doen om te registreer om as studentsielkundige te kan werk.

Genis moet deur al die onderskeie aansoek- en registrasieprosesse van die raad gaan alvorens hy uiteindelik sy eie praktyk kan begin en as kliniese sielkundige kan werk. “Ek studeer sedert 2012. Dit was reeds ’n baie lang en moeilike pad om te kom waar ek nou is. Dit frustreer my omdat ek weet ek alles doen soos wat voorgeskryf word.”

Du Toit Genis

Genis is die afgelope maande van bakboord na stuurboord gestuur en onder meer ook ingelig dat sy aansoek nie goedgekeur kan word nie omdat die dokumente ingedien is op dieselfde dag wat hy die registrasiegeld betaal het. “Al my vertoë, skrywes en e-posse het op dowe ore geval. Ná al my pogings voel dit vir my daar word bloot teen my en Afrikaans gediskrimineer.

“Ek voel ook hierdie proses is onregverdig omdat die raad se lys van vereiste dokumentasie geen melding van die taalvoorkeur gemaak het nie.”

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, sê dit is onaanvaarbaar dat enige student se toekoms op die spel geplaas word omdat ’n amptelike instelling weier om een van die land se amptelike landstale te erken. “Hierdie besluit raak elke student wat al ’n kwalifikasie aan ’n Afrikaanstalige instelling behaal het, of nog gaan behaal, daarom moet sterk aksie geneem word teen hierdie burokratiese minagting en diskriminasie waaraan mnr. Genis onderwerp word.

Genis meen dit is diskriminerend om ’n graadsertifikaat, wat in een van die land se amptelike tale is, te weier en dat daar van hom verwag word om aanvullende uitgawes aan te gaan om dit te laat vertaal.

Genis se regsverteenwoordigers by Hurter Spies Ingelyf se skrywes aan die raad het tot dusver geen resultate opgelewer nie en ’n semi-dringende hofaansoek is nou teen die raad ingedien.

“Ons vertrou dat die saak spoedig afgehandel sal word, sodat hy sy loopbaan kan voorsit en ander instellings afgeskrik kan word daarvan om applikante se taalregte te skend,” sê Bailey.

Enige ander persoon wat soortgelyke diskriminasie ervaar, is welkom om AfriForum te nader by navrae@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings