AfriForum stel AfriForumTV as nuwe gratis aanlyn Afrikaanse stroomplatform bekend

AfriForum het op 11 April 2022 tydens ’n glansgeleentheid by die AfriForum Teater ’n aanlyn Afrikaanse stroomplatform bekendgestel. AfriForumTV is ’n gratis aanlyn platform waarvandaan AfriForum-lede en -nielede Afrikaanse inhoud van verskeie genres kan stroom.

AfriForumTV is gestig om die AfriForum-gemeenskap te verbreed as ’n bymekaarkomplek vir aanlyn vermaak om die Afrikaanse gemeenskap te ondersteun en ’n nuwe stem in die mediawêreld daar te stel. Intekenaars kan verskeie genres in die gemak van hulle eie huis op hul televisie, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-toep gebruik te maak.

AfriForumTV se inhoud bestaan uit vermaak, nuus, aktualiteit, skolesport, realiteit- en leefstylprogramme, podsendings en kindervermaak. Hierdie inhoud word verskaf deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die skepping van AfriForumTV ’n logiese volgende stap wat voortvloei uit AfriForum en die Solidariteit Beweging se doel om gemeenskapselfstandigheid en selfstandige instellings op ’n wye reeks lewensterreine te vestig. “AfriForumTV bied juis nou ’n selfstandige platform aan nuwe stemme om ’n verskeidenheid boodskappe oor te dra en ’n wyer keuse aan kykers te bied,” sê Kriel. Kriel het aangedui dat die tyd nou ryp is vir AfriForumTV, aangesien die nuwe tendens onder kykers is om self te kies wanneer hulle wat wil kyk en daar het tydens die COVID-19-inperkings ’n groter geneigdheid ontstaan om inhoud aanlyn te stroom.

“AfriForum se produksiehuise het reeds talle kwaliteit vermaakreekse, aktuele-, kinderprogramme en dokumentêre vervaardig, wat verseker dat AfriForumTV nou reeds met ’n stewige programaanbod afgeskop kan word terwyl nuwe inhoud deurgaans vervaardig sal word en ’n platform gebied sal word aan buite-vervaardigers,” voeg Kriel by.

Besoek gerus www.afriforumtv.co.za. Die toep is op Google Playstore beskikbaar en sal binnekort op die App Store beskikbaar wees.

Soortgelyke plasings