|

AfriForum stel plaasaanval-en-moordstatistieke vir 2020 bekend

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag sy jongste verslag oor plaasmoorde en -aanvalle tydens ’n mediakonferensie bekendgestel. Volgens dié verslag was daar in 2020 ’n toename in plaasmoorde ten spyte van die feit dat misdaad in Suid-Afrika in dié jaar afgeneem het.

“AfriForum se navorsing toon dat 63 plaasmoorde in 2020 gepleeg is, teenoor 45 plaasmoorde in 2019,” sê Andrea Muller, ’n navorser by AfriForum.

AfriForum het ook sy strategie bekendgestel om plaasaanvalle te bekamp en die nuwe Beveilig ’n Plaas-veldtog van stapel gestuur. Die veldtog het ten doel om boere van die nodige opleiding te voorsien om hul veiligheid in eie hande te neem.

“Hoewel boere al meer paraat word, is dit AfriForum se doel om hulle en hul gesinne méér weerbaar teen plaasaanvalle te maak. AfriForum sal aanhou om projekte, aksies en veldtogte aan te pak om die veiligheid van ons boere te verbeter en hulle te ondersteun waar ons kan,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs- en risikobestuurder.

Die opleiding sluit in:

  • Die veiligheidsassessering van plaaswonings
  • Opleiding in basiese noodhulp
  • Wapenopleiding
  • Die verskaffing van ’n analoog-radiostelsel insluitende radio-opleiding

“Die staat kan nie aanhou om die erns van plaasaanvalle, en die impak op slagoffers en hul gemeenskappe, te ignoreer nie”, sluit Muller af.

Soortgelyke plasings