AfriForum stel plan met agt wenke bekend oor brande in Wes-Kaap


Die burgerregtewaghond AfriForum het vandag sy plan met agt wenke na aanleiding van die ernstige brande in die Wes-Kaap bekendgestel.
Dit volg nadat daar in die afgelope tyd 19 veldbrande in dié provinsie gewoed het. Na bewering kan dié brande moontlik aan opsetlike brandstigting toegeskryf word, wat strafregtelik vervolgbaar is, sou dit die geval wees.
AfriForum se plan met wenke vir die Wes-Kaapse gemeenskap sluit die volgende in:

  1. Sluit by ’n plaaslike AfriForum-tak aan en stig ’n buurtwag wat moontlike strafregtelike optrede soos brandstigting kan moniteer en vir vervolging aanmeld.
  2. Die AfriForum-buurtwag sal die volgende ondersteuning van AfriForum-hoofkantoor ontvang:
  3. mediese versekeringsdienste vir die AfriForum-buurtwaglede;
  4. ondersteuning met die opstel van ’n noodplan vir jou dorp in die geval van ’n brandkrisis;
  5. die aankoop van toerusting om brande mee te bestry;
  6. noodhulpopleiding; en
  7. die vestiging van infrastruktuur om die gemeenskap in die geval van ’n brandkrisis deur middel van tweerigtingsradio’s en herhalers te mobiliseer.
  8. Strafregtelike aktiwiteite moet onmiddellik by die plaaslike polisiestasie vir verdere ondersoek en moontlike vervolging aangemeld word.
  9. Lede van die gemeenskap moenie onbevestigde gerugte en boodskappe versprei wat onnodige paniek saai nie.
  10. Raak betrokke by plaaslike veiligheidsinisiatiewe.
  11. Ondersteun en help wetstoepassers met die uitvoering van hulle werksaamhede binne die raamwerk van wetgewing.
  12. Vind uit wat die brandgevaar vir jou area vir die betrokke dag is.
  13. Verseker dat alle persele, ook skole, in die gebied oor die nodige brandbestrydingstoerusting beskik.

“Gemeenskappe moet by gemeenskapsinisiatiewe begin betrokke raak en eienaarskap van krisisse in hulle dorp neem. Hierdie is waarskynlik nie die laaste krisis wat die betrokke gemeenskappe die hoof sal moet sien nie. Ons moet dus verseker dat ons gemeenskappe toegerus en slaggereed is om nou en in die toekoms dié soort krisisse te kan hanteer,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder in die Wes-Kaap.

Soortgelyke plasings