Covid-19: AfriForum stel praktiese stappe voor om ekonomiese skade te beperk

Die burgerregteorganisasie AfriForum het aan pres. Cyril Ramaphosa en die Reserwebank geskryf om praktiese stappe voor te stel wat die negatiewe gevolge wat maatreëls ter beperking van die verspreiding van Covid-19 op die ekonomie kan hê, teen te werk. AfriForum het vroeër gesê die organisasie ondersteun die maatreëls om die verspreiding van die virus te beperk en het hul aan die Departement van Gesondheid beskikbaar gestel as ’n vennoot in die stryd teen die virus.

Volgens Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, is die praktiese stappe wat AfriForum voorstel universeel geldend en dit sal daartoe bydra om afgradering deur graderingsagentskappe te voorkom. “Die feit dat maatreëls ingestel word om die verspreiding van die virus te beperk behoort verwelkom te word. Hierdie maatreëls sal egter ongetwyfeld ’n negatiewe impak op die ekonomie hê. Dit is dus nou belangriker as ooit om die nodige maatreëls te tref om ekonomiese groei te stimuleer, of om ten minste dan ekonomiese inkrimping te beperk,” sê Roets.

In AfriForum se skrywes aan die president en die Reserwebank het die burgerregteorganisasie die volgende stappe voorgestel:

  1. Dat rentekoerse verlaag word.
  2. Dat inkomstebelasting en maatskappybelasting afgeskaal word.
  3. Dat regeringsuitgawes op inisiatiewe wat ten doel het om die ekonomie te reguleer, beperk word.
  4. Dat sekerheid gegee word oor die beskerming van eiendomsreg.
  5. Dat strenger grensbeheer toegepas word.

AfriForum is van voorneme om in die komende maande ’n meer volledige verslag aan die regering voor te lê met praktiese stappe wat uitgevoer kan word om die ekonomie te stimuleer.

Soortgelyke plasings