|

AfriForum stel saak oor SA regering se ongeërgde houding oor droogtehulp by VN

Twee nasionale veldtogkoördineerders van die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ʼn voorlegging gedoen oor die Suid-Afrikaanse regering se gebrek aan droogtehulp vir boere tydens die Verenigde Nasies (VN) se negende Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland.

Volgens Henk Maree, AfriForum se nasionale woordvoerder, het dié voorlegging ten doel om die Suid-Afrikaanse regering se onvermoë en onbereidwilligheid om boere in nood te help, aan die groot klok gehang.

Hy meen talle boere gaan steeds gebuk onder droogte ondanks reën wat onlangs fratsvloede in verskeie dele van die land tot gevolg gehad het.

“Die reën wat die afgelope paar weke geval het, is nie voldoende om die nood onmiddellik te verlig nie. Die realiteit is dat sekere streke jare laas behoorlik reën gekry het. As dit reën, beteken dit ook nie outomaties dat weiding dadelik beskikbaar is nie. Selfs in gebiede waar dit wel gereën het, het die veld tyd nodig om te herstel voordat vee daarop kan wei of dit vir saaidoeleindes gebruik kan word.”

Die voorlegging het ’n skakeltoer die afgelope twee weke afgesluit waartydens Maree en Monique Taute, nasionale veldtogkoördineerder, organisasies in België, Nederland en Switserland besoek het om steun vir droogtehulp te werf.

Hulle het onder andere met die Deputaatskap van die Christelike organisasie Bijzondere Noden, mnr. Walter van Luik, ʼn beleidsmedewerker van die Staatkundig Gereformeerde Partij (SGP) in die Europese parlement, asook met mnr. Diederik van Dijk, ʼn lid van die Eerste kamer van die Nederlandse parlement, ontmoet om die omvang en verwagte impak van die droogte te bespreek.

Maree vertel dat Nederlandse verteenwoordigers van organisasies geskok was om te hoor hoe min die regering tot dusver gedoen het om boere tydens die droogte te help. Sekere organisasies het aangedui dat hulle dit sterk oorweeg om bydraes te maak ten einde verligting vir boere te bring.

AfriForum het reeds vanjaar droogtehulp aan boere in die Vrystaat en Noordwes verleen deur sowat 300 ton se voer aan hulle te skenk. Dit is moontlik gemaak deur bydraes van die publiek sowel as donasies van die Nederlandse organisasies genaamd Woord en Daad en Hulp Bij Bijzondere Noden.

“Sowat 38 000 Suid-Afrikaners het reeds hul werk weens die droogte verloor. Basiese produkte soos mieliemeel se pryse gaan die hoogte inskiet. Die impak van die droogte van die afgelope paar jaar gaan in die afsienbare toekoms ’n groot impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie hê,” meen Maree.

Jy kan R10 vir die droogteveldtog skenk deur “DROOGTE” na 38312 te SMS.

Soortgelyke plasings