|

AfriForum stel teenkorrupsie-eenheid bekend

“Korrupsie is besig om Suid-Afrika te vergiftig en dit neem die kos uit die monde van die armstes in die land. Daarom wil ons die rol van die burgerlike samelewing in die stryd teen korrupsie verbreed en versterk.”

Só meen Monique Taute, pas bevorderde hoof van AfriForum se nuutgestigte teenkorrupsie-eenheid, wat die burgerregte-organisasie vandag in samewerking met Paul O’Sullivan, forensiese ondersoekbeampte, bekendgestel het.

“AfriForum het lankal tot die besef gekom dat sistemiese korrupsie ’n land op sy knieë kan dwing. Iets moet daaraan gedoen word en dit is waarvoor ons ons beywer.”

Volgens Taute gaan AfriForum die stryd teen korrupsie saam met O’Sullivan aanpak deur op verdienstelike gevalle te fokus. Regsoptrede teen die staat gaan ingestel word ten einde die owerheid te dwing om sy verantwoordelikheid na te kom en kriminele agter tralies te plaas.

Die stigting van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid is die eerste stap in die burgerregte-organisasie se stryd teen korrupsie. ’n Private vervolgingseenheid word ook beoog om korrupte persone te vervolg wat om politieke redes deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) beskerm word.

Taute en haar span sal onder meer ʼn koördinerende rol speel om korrupsie deur hooggeplaastes te identifiseer, dit deur ervare ondersoekers te laat ondersoek, te verseker dat strafregtelike klagtes ingedien word, druk vir vervolging toe te pas deur korrupsie in die openbaar te ontbloot en openbare veldtogte teen korrupsie te voer.

O’Sullivan het tydens die bekendstelling gesê dat die uitroei van korrupsie die enigste manier is om die land te verbeter.
Hy meen dat instellings soos die prioriteitsmisdaad-litigasie-eenheid (PCLU) eerder ʼn korrupte, politieke eenheid is wat mense wat teen korrupsie veg vervolg. “Die PCLU is niks anders as politieke gereedskap vir pres. Jacob Zuma nie. Suid-Afrikaners moet besef dat die land se probleme nie opgelos kan word totdat dié eenheid sy deure toemaak nie.”

AfriForum en O’Sullivan het tydens die bekendstelling bewyse voorsien van die Tsjeggiese voortvlugtige, Rodavan Krejcir, se beweerde korrupte onderhandelinge met onder andere lt. genl. Vinesh Moonoo, maj. genl. Joey Mabasa, landdros Stephan Holzen en lt. genl. Richard Mdluli. AfriForum en O’Sullivan beplan om hul kragte saam te snoer en druk op die NVG te plaas om dié individue te vervolg.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wil die burgerregte-organisasie deur dié eenheid die burgerlike samelewing laat saamstaan teen korrupsie.
Kriel het daarop gewys dat die korrupsie in die land vererger word deurdat die strafregstelsel, wat korrupsie moet beveg, self deur kriminele geïnfiltreer is. Boonop is die strafregstelsel ook gedienstig aan gulsige politici wat hulself wil verryk.

“Terwyl korrupte politici en hooggeplaastes nie vervolg word nie, word staathulpbronne misbruik om kampvegters teen korrupsie soos O’Sullivan en Pravin Gordhan, minister van finansies, op bekookte aanklagte te vervolg,” meen Kriel.

Hy het ook gesê dat AfriForum O’Sullivan sal bystaan en verdedig teen dié individue wat hom teister.

Aan korrupte lede van die land se sakesektor, regeringslui en korrupte politici, het Kriel gesê: “Ons is op julle spoor, daar is nêrens plek vir julle om weg te kruip nie.”

Soortgelyke plasings