|

AFRIFORUM STEL TIEN PRAKTIESE STAPPE TEEN PLAASMOORDE VOOR BY REGERINGWERKSWINKEL OOR LANDELIKE VEILIGHEID

AfriForum het tien stappe tydens ’n regeringwerkswinkel oor landelike en stedelike veiligheid voorgestel wat die vlaag van plaasmoorde doeltreffend sal bekamp. Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, het virtueel aan die werkswinkel deelgeneem om AfriForum se perspektief oor en voorgestelde oplossing vir landelike veiligheid en die plaasmoordkwessie oor te dra.

AfriForum se aanbieding het ’n oorsig behels van die landelikeveiligheidskrisis en redes waarom plaasmoorde as unieke misdade beskou behoort te word, asook die uitdagings wat tot konflik lei. Die aanbieding het die kwessie van negatiewe stereotipering van boere en haatspraak aangeraak. Aan die einde het AfriForum voorstelle gelewer om landelike veiligheid te verhoog.

“AfriForum voer sedert 2012 ’n veldtog om plaasaanvalle en -moorde as prioriteitsmisdade te laat klassifiseer. Dit is egter sedert die organisasie se ontstaan ’n aktiewe rolspeler in die stryd teen plaasaanvalle en -moorde,” sê Roets.

“AfriForum het voorheen by verskeie geleenthede sy hand na die regering uitgesteek om feite oor plaasaanvalle en -moorde aan te bied. Ons hoop egter dat dié aanbieding die eerste van vele ander geleenthede sal wees om die organisasie se gedetailleerde ondervinding van en navorsing oor landelike veiligheid na die tafel te bring,” sluit Roets af.

AfriForum se tien voorgestelde stappe is:

  1. erken die erns van die krisis en stel statistieke oor plaasaanvalle en -moorde kwartaalliks vry
  2. hou onafhanklike navorsing vol oor die ware omvang van die krisis, die manifestering van dié aanvalle en die doeltreffendheid van ’n reeks teenstrategieë
  3. betrek plaaslike gemeenskappe deur middel van regeringsbefondsde strukture om die voormalige rol van die kommandostelsel te vervul
  4. erken plaasaanvalle as ’n prioriteit van die Direktoraat vir die Ondersoek van Prioriteitsmisdade (die Valke)
  5. skep ’n vennootskap met die burgerlike samelewing om die SAPD se reaksie op plaasaanvalle te versterk
  6. hersien die Nasionale Strategie vir Landelike Veiligheid om veral voorsiening te maak vir ’n gefokusde reaksie op plaasaanvalle
  7. stig spesialis-landelikeveiligheidseenhede
  8. bewerkstellig ’n holistiese benadering tot plaasaanvalle, teenoor die uitsluitlik plaaslike fokus in reaksie op individuele plaasaanvalle asof dit geïsoleerde gevalle is
  9. Voorsien omvattende slagofferondersteuning dwarsdeur die hele proses
  10. Promulgeer wetgewing ingevolge waarvan plaasaanvalle meer omvattend hanteer word – dit moet insluit die kriminalisering van haatspraak wat geweld teen boere aanwakker of verromantiseer.

Soortgelyke plasings