|

AfriForum stel voltydse buurtwagpatrollievoertuig bekend in Bloemfontein

Die burgerregte-organisasie AfriForum stel vandag hul eerste voltydse buurtwagpatrollievoertuig by die Windmill Casino in Bloemfontein bekend.

Volgens Johan Hattingh, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Vrystaat, is die doel met dié voertuig om aan die toenemende behoeftes van buurtwagte en veiligheidsdienste in die provinsie te voorsien. AfriForum het nege takke in Bloemfontein, waarvan agt se hoofprioriteit gemeenskapsveiligheid is. Die voertuig sal dus 24/7 patrolleer en beskikbaar wees om te reageer op noodoproepe uit die gemeenskap.

“Hierdie voertuig is die eerste van sy soort in Bloemfontein en baanbrekerswerk word nou vir gemeenskapsveiligheid gedoen. Hierdie gaan ons buurtwagte in Bloemfontein ’n groot hupstoot gee en strukture vir gemeenskapsveiligheid uitbrei,” het Hattingh gesê.

Die buurtwagpatrollievoertuig word in samewerking met Bloemsec, ʼn plaaslike sekuriteitsmaatskappy, gebruik en die voertuig sal hoofsaaklik in die Fichardtpark-, Hospitaalpark- en Pellissier-area diens doen. Daar sal ook op noodroepe in ander areas waar AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein funksioneer, gereageer word.

Pieter Myburgh, distrikskoördineerder vir Bloemfontein, sê dat die takke in Bloemfontein baie opgewonde is oor die voertuig en uitsien na die uitbreiding van hul veiligheidstrukture. “Die AfriForum-takke in Bloemfontein het hard gewerk om hierdie droom te verwesenlik. Sonder ons plaaslike takstrukture se harde werk en toewyding oor die afgelope jaar sou dit nie moontlik gewees het nie. Hierdie is net weer  ʼn bewys dat selfdoen beter is as niksdoen.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, tree as gassprekers by die bekenstelling van die buurtwagpatrollievoertuig op.

Buys, wat oor die selfstandigheidskultuur van die Afrikaner- gemeenskap gaan praat, het aan Forum Nuus gesê die Nederlandse denker Bob Goudzwaard, het dekades gelede al gesê dat die Afrikaner se geskiedenis ’n stryd om oorlewing en nie oorheersing is nie.

“Burgerlike betrokkenheid in veiligheid is dus niks nuut nie, omdat Afrikaners nog altyd hulself in samewerking met die owerhede beskerm. Die voortgaande verswakking van die staat se vermoë om sy burgers veilig te hou, maak dit noodsaaklik dat die gemeenskap nou weer saamstaan om hulleself te beskerm.”

Buys meen die beste manier om dit te doen is vir mense om hulself in sterk en wettige buurtwagte te organiseer, en dan saam met die polisie en sekuriteitsmaatskappye te werk om misdaad te bekamp. Hy sê die praktyk het bewys dat misdadigers afgeskrik word deur goed georganiseerde en tegnologies toegeruste buurtwagte.

“Hierdie buurtwagte staan nie alleen nie, maar word ondersteun deur AfriForum se nasionale netwerke en ondersteuningsdienste. Gemeenskapskrag was nog altyd in ons geskiedenis sterker as staatsmag, en dit sal nou weer so wees. Goeie organisasie, deeglike opleiding, nuwe tegnologie, aktiewe gemeenskapsteun en samewerking met die SAPD gee aan buurtwagte ’n voorsprong bo kriminele bendes. AfriForum gaan ons mense nie alleen los nie, en gaan op die voorpunt van die stryd teen die misdaadplaag wees wat die land teister.”

Die burgerregte-organisasie sal ook Saterdag, 23 April, by die Southern Sentrum in Fichardtpark wees om die publiek bekend te stel aan die gemeenskapsrol en werksaamhede van AfriForum. Die geleentheid vind tussen 10:30 en 13:00 plaas.

Om aan te sluit by jou plaaslike buurtwag, SMS jou woonbuurt se naam na 45266.

 

 

 

Soortgelyke plasings