AfriForum stig Goukou-plaaswag in Hessekwa


Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy Goukou-plaaswag in die Hessekwa-streek gestig om misdaad in dié gebied te help hokslaan. AfriForum gaan ook binnekort veiligheidstoerusting aan dié plaaswag oorhandig.

“Dié plaaswag vorm deel van ons takstruktuur en het ten doel om die gemeenskap in samewerking met die polisie en ander plaaslike veiligheidsinstansies in tye van nood by te staan. AfriForum-buurt- en plaaswaglede teken ’n streng gedragskode om te verseker dat hulle te alle tye binne die raamwerk van die reg optree. Ons het ook ’n baie aktiewe buurtwag in Riversdal, wat talle suksesse behaal het en daartoe bygedra het dat die misdaadsyfer in dié dorp skerp gedaal het. Dít is ’n bewys dat AfriForum-buurtwagte ’n daadwerklike verskil maak,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Johan Crous, hoof van die veiligheidsportefeulje by AfriForum se Hessekwa-tak, sê dat die veiligheid van alle inwoners vir die tak ’n prioriteit is en dat ’n wesenlike verskil deur goeie samewerking gemaak kan word.

“Ons moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak en te help om die veiligheid van die Hessekwa-streek se inwoners te bevorder.”

SMS “Plaaswag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings