|

AfriForum stig Hoekwil-plotwag in George

Die AfriForum-tak in George het op 8 November ’n plaaswag op Hoekwil gestig. Hoekwil is ’n landelike gemeenskap wat in die ooste gedeelte van George geleë is. 

Die stigting van die Hoekwil-plotwag volg kort op die hakke van die stigting van die Herold-plaaswag. Dit is ’n getuigskrif van die harde werk wat agter die skerms deur die AfriForum-tak sowel as die gemeenskapsveiligheidspan in George gedoen word om hierdie dorp veilig te hou. Die Hoekwil-plotwag se bestuur bestaan uit Ernst Kamfer (buurtwagleier) en Dean Little (buurtwaglid).

Volgens Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, moet veiligheid ’n absolute prioriteit in gemeenskappe wees. “Mense is siek en sat daarvoor om in vrees te leef en is toenemend bereid om hand in eie boesem te steek en self verantwoordelikheid vir hul veiligheid te neem. AfriForum glo daarin dat alle veiligheidsrolspelers moet saamwerk aan ’n gemeenskaplike doel en ons vat graag hande met die groter gemeenskap van George en omliggende areas om dié gebied te beveilig.”

“Ons is baie opgewonde om te sien hoe ons harde werk agter die skerms besig is om vrug te dra. Verder is ons dankbaar om te sien hoe daar stewige en goeie verhoudinge gebou word met ander rolspelers in die veiligheidsgemeenskap soos die SAPD. Die veiligheidsuitdagings wat die boerderygemeenskappe deesdae in die gesig staar vereis dat ’n boer toegerus is met die nodige kennis om met selfvertroue op te tree en goeie besluitneming aan die dag te kan lê. Ons sal dus spoedig met opleiding begin om die plotwag te bemagtig,” sê David Olivier, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir die suidstreek.

Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings