| |

AFRIFORUM STIG ’N BUURTWAG IN KLAWER

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 11 Mei 2021 ’n nuwe buurtwag in Klawer gestig. Dié buurtwag is die organisasie se elfde veiligheidstruktuur wat in die Matzikama-distrik op die been gebring is.

AfriForum bied bepaalde voordele en beskerming aan sy buurt- en plaaswaglede, en lede ontvang ook deurlopend opleiding. Alvorens ’n buurtwag gestig mag word, word 30 gedragskodes benodig. Die nuutverkose bestuur bestaan uit die volgende persone: Marriett Treurnicht (leier), Coenie Niemand (onderleier) en Demas Fortuin (koördineerder). Ander AfriForum-buurtwagte en -plaaswagte in die nabye omgewing het al verskeie suksesse behaal.

“Ek is baie opgewonde oor die stigting van die nuwe buurtwag in Klawer. Ons kan nie langer die geveg teen misdaad slegs op die skouers van die polisie laat rus nie, ons moet sélf betrokke raak in ’n poging om ons gemeenskap meer weerbaar te maak,” sê Wilco Engelbrecht, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Vredendal-tak.

“Ons wil die gemeenskap aanmoedig om by die buurtwag betrokke te raak sodat ons ’n veilige omgewing vir inwoners kan skep. Goeie samewerking met die SAPD en ander rolspelers kan ’n wesenlike verskil maak,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Die gemeenskap word aangemoedig om by hul naaste AfriForum-tak en -buurtwag betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Vredendal” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings