|

AfriForum stig nuwe tak in die Strand

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 12 Oktober 2021 ’n nuwe tak in die Strand gestig na verskeie versoeke uit die gemeenskap. Die stigtingsvergadering, wat by die ACVV Speelkasteel gehou is, is deur ongeveer 50 gemeenskapslede bygewoon. Die Strand-tak is die organisasie se tweede takstruktuur in die Helderbergkom-area.

Die takbestuur bestaan uit Neill Human (voorsitter), Bert Human (ondervoorsitter), Leanne Gericke (tesourier), Chantell Beyers (sekretaresse), Johan van der Werff (omgewingsake) en KC Gericke (veiligheid)

Tydens die stigtingsvergadering het Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland die organisasie se model en onlangse suksesse voorgehou. Mark Kuys, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek het uitgebrei oor AfriForum se veiligheidsplan en -strukture, asook die voordele daaraan verbonde om hierdie twee aspekte in plek te hê. Dit sluit geakkrediteerde opleiding, toerusting, ’n nasionale netwerk en waardevolle ervaring in.

“Ons is baie opgewonde oor die stigting van die Strand-tak, Hierdie is ’n sprekende voorbeeld van ’n selfstandige gemeenskap wat saamstaan en die tak sien uit daarna om talle selfdoen-projekte van staple te stuur en om sodoende die gemeenskap te dien sowel as om hulle meer weerbaar te maak,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Strand” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings