AfriForum stig tak én buurtwag in Benoni


Die burgerregte-organisasie AfriForum het gister ’n tak en buurtwag in Benoni gestig.
Dít volg nadat verskeie gemeenskapslede die behoefte aan ’n AfriForum-tak en -buurtwag uitgespreek het om sowel die voortslepende gebrek aan munisipale dienslewering as die hoë geweldsmisdaadvlak in dié dorp die nekslag toe te dien.
Die takbestuur bestaan uit Martin du Plessis (voorsitter), Archie Mouyis (ondervoorsitter), Christie Coetzee (tesourier), Adriaan Jonker (sekretaris), Gerald Green (plaaslikeregeringsake), Wimpie Venter (omgewingsake), Jannie Bezuidenhout (veiligheid) en Jonathan Gardiner (jeug).
Die buurtwagbestuur bestaan uit Jannie Bezuidenhout (voorsitter) en Archie Mouyis (sekretaris), terwyl Buddy David, Jerome Stapelberg en Dean Ambrose as bestuurslede dien.

“Die takstigting was ’n reusesukses en die gemeenskap is reeds ywerig om deel te word en ’n verskil te maak. Ons gasspreker, genl.maj. Roland de Vries, het die gemeenskap toegespreek oor AfriForum se Projek Nehemia en die uitrol van dié gemeenskapstrategie teen geweldsmisdaad,” sê Marie Naude, AfriForum se assistentkoördineerder vir Gauteng.
“Ek is trots om deel van ’n organisasie soos AfriForum te wees en glo dat die stigting van ’n AfriForum-buurtwag ’n keerpunt in die geveg teen misdaad in Benoni sal wees. Ek doen ’n beroep op die gemeenskap om by die plaaslike AfriForum-tak en -buurtwag aan te sluit,” sê Martin du Plessis, voorsitter van AfriForum se  Benoni-tak.

Raak vandag nog betrokke: SMS “Benoni” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings