AfriForum stig tak én buurtwag in Ellisras


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 16 Maart 2017 sowel ’n tak as ’n buurtwag in Ellisras gestig.
Dít volg nadat verskeie gemeenskapslede die behoefte aan ’n AfriForum-tak en -buurtwag uitgespreek het om die voortslepende gebrek aan munisipale dienslewering en die hoë geweldmisdaadvlak in dié dorp die nekslag toe te dien.
Die takbestuur bestaan uit Aldo Venter (voorsitter), Chris van der Westhuizen (ondervoorsitter) en Corrie Gouws (sekretaris). Plaaslike regeringsake sal deur Corrie Gouws en komiteelede Gert du Plessis, George Minnaar en Thinus Grobler behartig word. Omgewingskae is die verantwoordelikheid van Kobus Roux en komiteelede Jacques de Lange, Corné Oosthuysen, Elsabe de Klerk en Braam van der Linde. AfriForum Jeug in Ellisras val onder Hennie Badenhorst en komiteelede Doret Jacobs, Jaco Jacobs en Leonard Joubert.

“Ek glo dat die stigting van ’n AfriForum-tak in Ellisras ’n keerpunt in die geveg teen munisipale wanbestuur is. Die Lephalale Plaaslike Munisipaliteit het volgens die ouditeur-generaal se 2014/2015-verslag byna R50 miljoen onregmatig spandeer en moet daarom tot verantwoording geroep word,” sê Chris Boshoff, AfriForum se streekskoördineerder vir Limpopo.

Die buurtwagbestuurspan bestaan uit George Du Toit (voorsitter), Delyse Venter (sekretaris) en Chris van der Westhuizen (operasionele voorsitter).

“Ek is trots om deel te wees van ’n organisasie soos AfriForum wat ’n verskil in die lewens van hul lede maak. Ek doen ’n beroep op die gemeenskap van Ellisras om by die plaaslike AfriForum-tak en die buurtwag aan te sluit,” sê Aldo Venter, voorsitter van AfriForum se  Ellisras-tak.

Raak vandag betrokke deur “Ellisras” na 45340 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings