|

AfriForum stig tak in Sodwana

Die burgerregteorganisasie AfriForum het onlangs ’n nuwe tak in Sodwana gestig ná verskeie versoeke uit die gemeenskap. Die stigtingskomitee bestaan uit Christo van Jaarsveld (voorsitter), Louis Olivier (ondervoorsitter), Emmse Burger (tesourier) en Petro van Jaarsveld (sekretaris).

Tydens die stigtingsvergadering het Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal, die organisasie se model en onlangse suksesse voorgehou. AfriForum se model fokus daarop om gemeenskappe sterker te maak en die onkeerbare verval van regeringsverpligtinge op plaaslikeregerings-, gemeenskapveiligheid- en omgewingsakevlak te stuit. AfriForum se aanbod sluit geakkrediteerde opleiding, toerusting, ’n nasionale netwerk en waardevolle ervaring in.

“Ons is opgewonde om deel te wees van ’n organisasie wat gemeenskappe dien. Ons uitdagings in Sodwana is uniek. Ons wil deel raak van AfriForum se veiligheid en wil onmiddellik begin om daaraan te werk,” sê Christo van Jaarsveld, die nuwe voorsitter van AfriForum se Sodwana-tak.

“Ons is opgewonde om ons strukture in Sodwana uit te brei. Ons sien daagliks al meer die behoefte aan gemeenskappe wat betrokke is om dienslewering te verseker. Ons het ’n veg-en-bou-benadering om vir goeie dienslewering te veg, maar ook self in te spring waar die staat faal,” sê Van Aswegen.

AfriForum se Sodwana-stigtingskomitee nooi die gemeenskap uit om deel te word van die Sodwana-tak: SMS “Sodwana” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings