|

AfriForum streekberaad bied hoop vir die toekoms

AfriForum het vandag een van sy streekberade in Centurion gehou. Meer as 300 lede het dit bygewoon.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ’n kragtige boodskap vir beraadgangers gehad. “Julle is AfriForum se hande en voete. Ons krag is in ons lede en strukture. Sonder julle kan ons net soveel planne by hoofkantoor maak soos ons wil sonder om suksesvol te wees.”

Die ledetal het vandag op 229 036 gestaan, terwyl die organisasie 140 buurtwagte en 9 500 vrywilligers het.

Kriel het gesê geen organisasie is perfek nie en daarom het AfriForum onlangs sy personeelstruktuur aangepas om meer vaartbelyn te wees.

Volgens Kriel is twee elemente nodig vir sukses. Die eerste is ’n baie goeie plan en die tweede die vermoë om dit uit te voer. “Ons het ’n plan vir die toekoms – ’n veg-en-bouplan. Ons veg teen onreg en agteruitgang en ons pak dinge self aan.”

Hy het die agteruitgang van Afrikaans op universiteit as voorbeeld genoem en gesê alles moontlik is in die stryd gewerp om dit as onderrigtaal te behou en nou bou die Solidariteit Beweging voort deur die oprigting en uitbou van Akademia, ’n privaat Afrikaanse universiteit.

Barend Uys, hoof van navorsing en ontwikkeling, het meer lig op AfriForum en die Beweging se konsentrasie- en ankerdorpplanne vir die toekoms gewerp. “As toekomsgerigte organisasie moet ons wees waar ons lede in die toekoms gaan wees. Ons kan nie die demografiese werklikhede in die land ignoreer nie.”

Volgens Uys toon navorsing dat daar 29 plekke in die land is waar natuurlike konsentrasie van Afrikaners plaasvind. Teen 2030 sal 53% van Afrikaners in slegs 10 munisipale gebiede bly. ’n Verdere 14% sal in 19 munisipale gebiede woon.

Uys het gesê belangrike werk lê voor om Afrikaanse gemeenskaps- en breër dorpsforums te skep. Die betrokkenheid van gemeenskappe en belangegroepe wat bymekaar kom om planne te maak is van kardinale belang. So ook goeie verhoudinge met alle mense.

Volgens Uys gaan tegnologie ook in die toekoms ’n belangrike rol speel om gemeenskappe onafhanklik te maak. “Ons staan voor groot geleenthede en uitdagings. Daar is dit belangrik om kyk hoe ons ‘kaart’ vir die toekoms lyk.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid, het gepraat oor die noodsaaklikheid dat gemeenskappe hulself beveilig.

Hy het gesê in 2016 was daar 1 800 buurtwaglede, vandag is daar 9 500 vrywilligers.

Cameron het klem gelê op veerkragtige gemeenskappe wat toegerus is om teen hoë vlakke van geweld op te tree. “Ons moet weerbaar wees, kennis van bedreigings hê en waar ons kan ook van eksterne kundigheid gebruik maak om onsself te beskerm.”

Nic Arnold, hoof van strukture en veiligheid, het aangekondig dat ’n nuwe maatskappy, Forum Sekuriteit, gestig is wat daarop gemik is om breër veiligheidsdienste in die toekoms aan te bied.

Soortgelyke plasings