AfriForum stuit beoogde tariefverhogings vir Tshwane-metro


Die Tshwane-metro mag nie voortgaan met die implementering van sy nuwe elektrisiteitstariefverhogings soos voorgelê aan Nersa nie.

Dit kom nadat die burgerregteorganisasie AfriForum in ’n prokureursbrief Nersa versoek het om nie die verhoging goed te keur nie omdat die beoogde verhoging op ’n tarief sou neerkom wat hoër as die voorgestelde 13,8% vir munisipaliteite is met ander gebreke daar boonop.
Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, wat op Vrydag 28 Junie 2019 Nersa se vergadering in Pretoria bygewoon het, sê die organisasie verwelkom Nersa se besluit.

“Nersa het die Tshwane-metro skerp gekritiseer en gesê die raad moet sy huis in orde kry, en aangedui dat AfriForum se voorstelle rondom ’n openbaredeelnameproses oorweeg sal word.”

Tshwane het die afgelope maand drie verskillende elektrisiteitstariefverhogings vir die 2019/2020-termyn aangekondig. Dié tariefverhogings sluit ’n elektrisiteitsverhoging van 12% in met drie basiese tariefheffings van onderskeidelik R56, R120 en R200 wat betaalbaar is voordat enige krag verbruik word. AfriForum staan dié buitensporige verhogings teen en sal voortgaan met stappe om toe te sien dat billike tariefverhogings ingestel word.
Die basiese tarief beteken dat kragverbruikers dié tarief sal betaal voordat enige elektrisiteit verbruik word. Vir koopkragverbruikers beteken dit indien jy R56, R120 of R200 se krag aankoop, jy geen eenhede sal ontvang vir die kragaankope nie en bykomende krag sal moet aankoop voordat jy enigsins eenhede ontvang.
Die eerste verhoging wat aangekondig is, het in die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) verskyn en sluit ’n basiese tarief van R56 in wat op alle verbruikers van toepassing is. Die tweede aankondiging het op 19 Junie 2019 in die Staatskoerant verskyn en sluit ’n basiese tarief van R200 in. AfriForum het verder deur ’n PAIA-proses ’n derde basiese tariefverhoging van R120, wat die metro voorgestel het, bekom. Volgens AfriForum se berekeninge sal die basiese heffing van R56 soos in die GOP voorgestel nie ’n probleem wees nie en mag verbruikers dalk minder betaal as voorheen, maar die ander twee voorgestelde basiese tariefheffings sal nie die afsnypunt van 13,8% haal nie.
Nersa se riglyne vir elektrisiteitsverhogings stel ’n voorgestelde verhoging van 13,8% vir munisipaliteite voor om te verseker dat dié verhogings nie buitensporig raak nie. Die probleem met die basiese tariefheffings, soos deur die metro voorgestel, is egter dat die persentasie verhoging van kragverbruikers heelwat meer sal wees as die voorgestelde 13,8%.
Volgens Grobbelaar poog die metro om verbruikers veel meer te laat betaal as wat deur Nersa voorgeskryf word.

“AfriForum glo die Tshwane-metro het op ’n slinkse wyse ’n manier gekry om verbruikers veel meer te laat opdok as die toegelate 13,8%. Die heffings van R200 en R120 is skerp verhogings van die voorgestelde R56 en blyk onredelik te wees en kan nie geregverdig word nie.”

Danksy AfriForum se ingryping sal die voorgestelde tariefverhoging dus nie op 1 Julie in werking tree nie, maar eers later nadat ’n billike proses gevolg word. Vir tyd en wyl sal die tarief tot verdere kennisgewing onveranderd bly.
AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van Pretoria om die verhogings teen te staan. Voeg jou stem by die klagte deur hierdie skakel te volg en help om AfriForum se hand sterker te maak: https://afriforum.co.za/tshwane-elektrisiteitverhogings-afriforum-staan-dit-teen/.

Soortgelyke plasings