AfriForum stuur plaasaanvalslagoffers na VSA ná bedrieglike Ramaphosa-uitlating


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag aangekondig dat hy slagoffers wie se geliefdes tydens plaasaanvalle vermoor is na die VSA sal stuur in ’n volgende fase van AfriForum se bewusmakingsveldtog teen plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding. Die organisasie is ook van voorneme om ’n bekendstelling van die boek Kill the Boer* deur Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, in Washington, D.C. te reël. AfriForum sal ook 100 kopieë van dié boek aan internasionale meningsvormers stuur en ’n kopie per hand by die kantoor van president Cyril Ramaphosa laat aflewer.
Hierdie stap volg nadat Ramaphosa gister in New York tydens ’n mediaonderhoud gesê het dat daar geen plaasmoorde en geen grondgrype in Suid-Afrika voorkom nie.
AfriForum wil aan plaasaanvalslagoffers en hul geliefdes die geleentheid gee om hul verhale aan meningsvormers, politici, regeringsverteenwoordigers en die media in Washington te vertel.
Roets bestempel Ramaphosa se stelling as ’n infame leuen en sê dat dit ’n klap is in die gesig van die meer as 10 000 mense wat al op Suid-Afrikaanse plase aangeval is, asook die families van die ongeveer 2 000 slagoffers wat in dié plaasaanvalle vermoor is.

“Daar is geen manier om doekies om te draai of te versag wat die president gesê het nie. Dit is blatant vals,” sê Roets. Hy voeg by dat dit net so bedrieglik is om aan te voer dat daar geen grondgrype in Suid-Afrika is nie. “AfriForum het dan juis gedurende die afgelope maand ’n hofbevel bekom namens dr Motodi Maserumule, ’n Gautengse boer, om onwettige grondgrypers van sy plaas te verwyder nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geweier het om Maserumule se saak teen die grondgrypers te open.”
Roets wys daarop dat daar in die afgelope twee dekades volgens die SAPD se eie syfers gemiddeld byna twee plaasaanvalle per dag en twee plaasmoorde per week voorgekom het. “Net sedert Januarie vanjaar was daar 320 plaasaanvalle en 43 plaasmoorde op Suid-Afrikaanse plase wat deur AfriForum bevestig kon word,” sê Roets.

*Die boek Kill the Boer handel oor die wreedheid van plaasmoorde in Suid-Afrika en die aandadigheid van die Suid-Afrikaanse regering in dié krisis. Die boek bevat meer as ’n duisend bronverwysings, wat talle onderhoude met slagoffers van plaasaanvalle insluit.

Soortgelyke plasings